Na ´n diep teleurstellende besoek aan die Dienst Vreemdelingenzaken, het ek traag en heel moedeloos huistoe gewandel. Met my moed in my skoene was ek nie lus vir die woonstel en die verskrikkelike straatlawaai wat met dit gepaard gaan nie. ´n Blok agter die woonstel is iets soos ´n park. Wel, daar is hoë bome, groen gras en eende. Ek loop altyd redelik vinnig daar verby oppad iewers heen. Vandag het dit na ´n baie aantrekliker opsie as die woonstel gelyk.
Van die oomblik dat ek die eerste voet van die sement sypaadjie af op die klam grond gesit het, het ek geweet dit was ´n briljante idee. Die natterige grondpaadjie het slingerend tussen die bome verdwyn. Hier en daar het die paadjie gevurk en skynbaar dieper tussen die bome in verdwyn. Aan die regterkant was ´n stuk groen gras met eende wat sorgeloos loop en wei en af en toe iets vir mekaar kwaak. Ek het die eerste vurk na regs geneem en op ´n houtbruggie beland. Die bruggie verbind die twee oewers van ´n stroom, wat meer soos ´n grag lyk. As jy die paadjie verder volg, ontdek jy ´n groot imposante gebou in ´n boustyl van vervloë jare. Dit herinner mens byna aan ´n beskeie paleisie. Die mure en dak en alles is opgeknap, maar dit besit nog al die sjarmes van ´n gebou wat meer as ´n 100 jaar oud is.
Na wat ek gehoor het, is die binnekant omskep in ´n restaurantskool. Een of ander gewilde/bekende kok van Vlaandere het die skool begin om werklose mense ´n tweede kans te gee. Hulle word opgelei in die kombuis en in die saal. Die restaurant is oop vir die publiek. Maar glo my, dis nie die opleiding wat die kelners van die Spur kry nie. Hier word Franse terme soos à point en bien cuit en couvert skaamteloos rondgegooi. In hierdie land word mens immers aangekyk asof jy ´n analfabeet is as jy nie hierdie terme ken nie. Dis soos die basics van die basics.
Op die eilandjie, omring deur die stil waters van die grag, staan hierdie lieflike restaurant. En in die grag swem die eende rustig rond. En rondom die grag is hoë bome wat stadig begin verkleur. Op ´n bankie tussen die bome het ek gaan sit en die rustigheid ingedrink. Ek het na die voëlsang in die bome geluister en onthou dat ek iewers in die middel van die nag gelê en luister het hoe ´n voël sing. En ek het gestaar na die blare met hulle uiteenlopende kleure. Sommige blare was vlamrooi, ander oranje. En nog ander so geel soos die son op ´n somersdag. Die temperatuur is weke lank al so laag dat ek al ´n paar keer gewens het dat ek my longjohns aangehad het. Maar dis die eerste keer dat ek opgelet het na die blare.
In Korea was dit meer opvallend as die berghange so begin verkleur asof iemand spatsels verf oral gemors het. Maar hier is geen berghange nie. En die uitsig vanuit die woonstel is nie vreeslik inspirerend nie. Dus moet mens met ´n bietjie meer aandag oplet na die natuur. So 2 kilometer verder op in die straat is ´n plekkie waar ek vreeslik graag sou wou bly. Dis ´n klein straatjie met miskien 8 huise opmekaar te midde van ´n groot bos bome met klein landerytjies daaromheen. Ek kan my voorstel hoe ek daar deur die kamervenster sal kan sit en staar na die songeel blare wat so broos lyk.
Ek dink die ongelooflike kleurvolle uitbundigheid van die herfs is die natuur se manier om op te maak vir die kleurlose, grou wintersdae wat in aantog is. In Korea kon ek nooit genoeg daarvan kry nie. Dit was die mooiste seisoen vir my. Dit het die vreeslike eentonige groen van die somer gebreek en gerebelleer teen kleurlose wintersdae. Hier sien mens minder van die uitbundige kleure. Maar dis nog steeds mooi. En so het ek op die bankie gesit en mymer en die rustigheid van my besit laat neem. En my moedeloosheid het deur my skoensole in die klam grond ingesak en verdwyn.