Vanoggend staan ek in die stort en gesels met myself.  Ek dink aan die opdraande stryd vir my om werk te kry.  Ek dink aan hoe ek dit moet bewoord as ek in ´n  onderhoud sit en gevra word hoekom ek vir solank nie gewerk het nie.  Hoe bewoord ek dit dat ek op hierdie ouderdom ´n werk soek wat niks met my ervaring of selfs belangstellings te make het nie.  En so gaan die gedagtes op hulle normale gang voort.  Tot ek besef….

Wat doen ek?  Wat sê ek aan myself?  Ek het die gedagtes weer laat terugspeel en ek was geskok.  Negatief.  Dis alles negatief!  My gedagtes van dae, weke is grotendeels negatief.  En hoe voel ek op hierdie oomblik?  Magteloos, byna moedeloos.  En dit omdat ek na nonsens luister.  Nonsens wat ek aan myself vertel!  Ek is my eie ergste kritikus.  En ek glo myself omdat ek dit oor en oor vir myself vertel. 

Hoeveel mense loop nie daar buite rond met dieselfde probleem nie?  Jy weet, daardie knaende gesprekke wat jy met jouself voer?  Jy kan dit nie doen nie…. Jy het nie die kennis nie…. Jy het nie die ervaring nie…. Kyk wat het so-en-so al bereik… Kyk watter fout het jy daar gemaak…. en daar…. en daar…. Kyk hoe het jy daai situasie hanteer…. Kom ons vergeet heeltemal van daai keer….

Negatiewe gedagtes en negatiewe emosies wat oor en oor deur jou gedagtes maal.  En dis nie nuwes nie.  Dit word net elke keer ge-recycle.  Vir dae kan ´n mens so rondloop, vasgevang in jou innerlike dialoog.  Tot jy jouself glo.  Tot jy by moedeloos verby is. 

 En hoeveel mense besef dat hulle hul eie grootste vyande is?  Dat hulle daardie negatiewe fluistering moet stop sit?  Hoeveel mense weet dat as hulle onmiddelik iets positiefs dink wanneer hulle besef hulle dink negatief, dit later ´n gewoonte word.  ´n Positiewe gewoonte.  Ek dink dat ek wel kan…. Ek kan dit doen…. en dit …. Ek hou van …. My vriende dink ek is goed met …. Ek het … al reggekry!  Positiewe gedagtes om die negatiewes te vervang.  Om nuwe lewenskrag te gee.  Nuwe moed.  Nuwe hoop.

Daar is hoeveel “life-coaches” wat ons vertel dat ons ons negatiewe gedagtes moet hokslaan en vervang met positiewe gedagtes.  En dit oor en oor te herhaal tot ons dit glo.  Dis hoe ons die negatiewe dinge van onsself glo…. ons het lank genoeg daarna geluister dat ons dit vir die waarheid aanvaar… Daarom kan dit werk vir die positiewe gedagtes ook.  Positiewe gedagtes en positiewe emosies.  Daar is gesondheidsinstrukteurs wat dit ook verkondig.  Vertel jouself jy hou van gesond wees, en fiks wees.  Dat jy hou van aktief wees, van gesonde kos.  Vertel dit oor en oor aan jouself.  Tot jy dit glo. 

Makliker gesê as gedaan.  Dit neem tyd en vasbyt om gewoontes te verander.  Vra iemand wat probeer ophou naels kou.  Maar die wonderlike daarvan is… vryheid.  Verandering.  Verbetering.

Maar weet julle wat die wonderlikste van hierdie lewenswaarheid is?  Filosowe het dit nie oorspronklik bedink nie.  Ook nie life-coaches nie.  Ook nie al die self-help psigoloë nie.  Hierdie waarheid kom van Christus af, van God af.   

“… ek maak my los van wat agter my is en strek my uit na wat voor is.”  Klink dit bekend?  Die self-help ouens vertel ons dat ons van die verlede moet vergeet, dis verby.  Jy kan nie in die verlede bly leef nie.  

“Julle gees en gedagtes moet nuut word.”  Klink dit bekend?  Die selfhelp ouens sê jy moet nuwe positiewe gedagtes dink.

Klink dit bekend?  Paulus het dit gesê.  In Filippense 3.  Onthou julle wie Paulus was?  Saulus wat Christene vervolg het.  Wat sou gebeur het as hy aan die verlede bly vasklou het?  Hy sou nie ´n kwart van die mense bereik het wat hy het nie.  Maak  jou los van die verlede, van die negatiewe dinge wat jou vaskettting op een plek.

Klink dit bekend?  Dit was weer Paulus.  In Efesiërs 3.  Oor hoe jy moet breek met die ou negatiewe gedagtes.  Jou gedagtes word nuut, wanneer jy nuwe gedagtes dink.  Dit gaan nie vanself kom nie.  Daardie negatiewe gedagtes het jy daar geplant, jy kan positiewe gedagtes plant.

Jou praat met jouself het baie meer krag as wat jy dink.  En dis nie net New Age sielkunde nie.  Dis ´n lewenswaarheid.  Dit geld vir almal.

Vanoggend het ek by personeelagentskappe my CV gaan ingee.  Of probeer.  Sommiges is heel behulpsaam en ander minder behulpsaam.  Sodra hulle hoor dat ek ´n buitelander is kan ek sien hoe hulle begin kriewel. 

Toegegee, my Nederlands is ver van perfek af, en ek verstaan geen enkele woord Frans nie.  Of Duits nie.  Of Portugees nie.  Nee, selfs nie Arabies, Turks of Marokkaans nie.  Jammer.  En ook nie Russies nie, nee.  Ek praat wel Engels, maar die helfte van die Belge kan Engels klappen, soos hulle op Vlaams sê. 

Hmmmm.  België, die land met 3 amptelike tale waarvan weinig in die alledaagse omgang gepraat word.  Neem bv. die noorde van die land.  Hulle praat amptelik Nederlands.  Maar glo my, die mense op straat praat alles behalwe dit.  O nee, hulle praat Vlaams.  En elke groot dorp het sy eie dialek!  (Ter verwysing – België is rofweg so groot soos Lesotho, het 10 provinsies, 3 streke, 3 gemeenskappe, 6 parlemente, 6 regerings en ´n koning.  Verskillende dialekte maak dus ook sin….. )   

Hier in Antwerpen praat hulle Antwaarps, ´n plaaslike dialek.  En mens moet mooi luister om dit te verstaan.  Die uitspraak klink baie Kaaps, met ´n skoot Nederlands wat goed deurspek is met hul eie geursel.  Liefie en sy familie kom van Londerzeel, so 30 minute se ry van hier, en hulle praat die dialek van daar.  Met die vreemdste uitspraak vir die “ui” in buite.  Dit klink soos mense wat nie weet dat die “ui” ´n saamgestelde klinker is nie, en elke letter probeer uitspreek met so ´n vreeslike oorronding wat die Pretorianers na Kapenaars laat klink.  En drie  klink eerder soos die Engelse dry.  Toe skoonma my die eerste keer vertel dat sy ´n valling het, het ek net beleefd geglimlag terwyl my brein allerhande moontlike betekennise van die woord probeer het.  Sy het my toe ingelig dat dit verkoue beteken.  Ah!  Skoonma was siek.  Sjoe.  Ek het al gesien hoe lê sy met ´n gebreekte been of iets.

En dan praat ek nog nie eens van Nederlands nie.  Die Belge vind Nederlands ook moeilik.  Byna alle meervoude kry ´n -en agteraan.  Let op ek sê byna – ek het al my vingers verbrand met daai reël. Vingers is ´n uitsondering….  En dan kry sommige werkwoorde ´n -t of -dt agteraan.  En kan kan kan bly of kunnen word.  Zij beteken sy óf hulle.   En onthou julle die lyste Engelse werkwoordvervoegings wat jy uit jou kop moes leer op skool?  Werkwoorde soos go – went – went?  Helaas, Nederlands het dit ook : gaan – ging – gegaan, of slaan – sloeg – geslagen.  En daar is natuurlik uitsonderings op alles.  En man, is Nederlands lief vir die -ch- .  Soos in schat of acht. 

Laasweek het ek gaan toets skryf by die organisasie wat buitelanders se Nederlands-vaardighede toets en les gee ens.  Dis nou lees, skryf, praat, alles.  Met die verstaan het ek geen probleme mee gehad nie, soos meeste Afrikaanssprekendes.  Maar dis daai skryf.  Toe die toets nagesien word het die meisie so ´n enigmatiese glimlaggie om haar lippe gehad.  En glo my, ek het al die tipiese Afrikaanse foute gemaak.  Geen -t of -dt.  Die -ch- was     -k- of -g-, en byna was die ik ek.  Soveel soos ons die Kapenaars altyd gespot het oor hulle ikke, spot my man my nou oor my ekke.   Ek is nou ingeskryf vir ´n baie intensiewe Nederlandse kursus wat September begin.  Tot ek kan Nederlands skryf gaan ek maar ´n werk moet soek waar ek nie te veel hoef te skryf nie.  Ouch!

Of  in goeie Afrikaans – Veels geluk!

Of dan byna.

Ons het uiteindelik vandag vooruitgang gemaak met my aansoek om verblyfsvergunning hier in België.  Na ´n onnodige wag van 3 weke omdat ons die verkeerde inligting gekry het by die plaaslike distrikskantore.  (O, en ek probeer die 3 maande vergeet wat ons vir die huweliksertifikaat uit SA gewag het… )  Toe my man vandag weereens bel om te hoor hoe ver dinge nou eintlik is, moes hy hoor dat ons moes teruggaan na die kantoor wat ons soontoe gestuur het. 

Inderhaas is ons soontoe, en het toe ´n heel bekwame dame gehad wat ons gehelp het.  Binne 2 weke kry ek ´n tydelike ID waarmee ek selfs mag werk soek!  En oor 5 maande is die proses volledig afgehandel.  Die owerhede het so lank om my aansoek te ondersoek, en indien ek niks van hulle hoor nie, is my aansoek goedgekeur en kry ek permanente verblyfsvergunning.

Dit voel of ´n berg van my skouers af  is.  En ek dink vir my wederhelf ook. 

Lekker naweek!

Kultuurskok is ´n term wat Kalervo Oberg in 1954 gebruik het om aan mense hulle emosies rondom kruiskulturele kontak te verduidelik.  Hy was ´n antropoloog.  En het self  in verskillende lande gebly en gewerk en het dus eerste handse ondervinding gehad. 

Voordat ek ooit ´n voet oor ´n grens gesit het, het ek vaagweg verstaan dat dit te make het met aanpassingsprobleme in ´n nuwe land of omgewing.  Toe ek in Korea was het ek dit in ´n ligte graad gehad, maar dit probeer hanteer en probeer aanpas en die beste van die situasie gemaak.  Ek het hier in België besef presies waardeur sommige kollegas in Korea gegaan het.  Hier het ek kultuurskok teë gekom in al sy lelike dimensies.  En ek het besef dat ek nog altyd eintlik gepraat het sonder dat ek werklik verstaan het.

Die wittebrood fase het ek iewers laas jaar al deurgegaan toe ek die eerste keer hier kom kuier het.  Maar miskien het ek dit nie besef nie, omdat ek so dolverlief was op die man dat ek die land gemis het…. Ek weet die tafelblad plat landskap het ´n geweldige indruk gemaak op my, soos ook die eeue-oue geboue (en die groot aantal hase!).  Huise, kastele en kerke wat gebou was toe die Boesmans nog oor groot dele van Suider Afrika kon trek.

Die tweede fase het ek bereik kort voor ek terug is Suid Afrika toe in November.  Ek het dit nie besef nie en dit toegeskryf aan die feit dat ek besig was om ´n troue te probeer reël oor duisende kilometers.  Dis net die gewone voorhuwelikse bewerasies, man!  Met die gevolg dat toe ek in  Januarie in die bittere nat koue land, ek nie voorbereid was op hoe intens my reaksie sou wees nie.  Die mense was lelik en ek kon nie ophou staar na hul groot neuse nie!  Hierdie was wraggies die onderhandelingsfase.  Ek moes op ´n stadium teenoor myself erken dat ek niks goeds in hierdie land sien nie.  Ek hou nie van hoe werknemers behandel word nie.  Ek vind die doktersituasie belaglik.  (Wie wil nou wag vir die een uur spreekkamer tyd wat ´n dokter het omdat hy die res van die dag huisbesoek doen?  En waar het jy gehoor daarvan dat as jy ´n inspuiting moet kry, gee hy jou eers ´n voorskrif wat jy dan die volgende dag na die apteek moet neem om die botteltjie vloeistof te kry sodat jy dan weer na hom moet gaan om uiteindelik die dekselse spuit te kry?  En jy betaal vir elke dekselse besoek, hoor.)  Die realiteitsreekse is om van te ween.  Die enigste goeie goed op TV is CSI en NCIS en Bones – die goeie ou Amerikaanse reekse.  Vir lank moes ons rugby in Frans (!) kyk omdat ons diensverskaffer dit nie nodig geag het om BBC 1 en 2 uit te saai nie.  En dit was geen ordentlike rugby nie.  Net die Suidelike Halfrond kan rugby speel….

Soos jy seker kan aflei is ek nog lank nie uit hierdie fase uit nie.  Ek het uiteindelik teen Paasfees besef dat ek aan kultuurskok lei toe ek saam met my man en sy vriende ´n flooimark besoek en die besef my tref dat alles anders is.  Niks is hoe ek dit ken of aan gewoond is nie.  En skielik kon ek nie ophou huil nie.  Vir 2 dae aanmekaar.  Ek het gedink die frustrasie en buierigheid was omdat ons steeds gewag het vir ons huweliksertifikaat uit Suid Afrika uit en ek dus steeds nie mag gewerk het nie.  Maar dit was maar ´n klein deeltjie daarvan.  Ek is stewig in die greep van kultuurskok en solank ek dit nie kon raaksien nie, sou dit net vererger.  Die depressie het ek gedeeltelik vrygespring.  En hoe kon dit dan nou anders as jy getroud is met die wonderlikste man op aarde?

Volgens die slim mense met die dik brille is daar ´n derde fase, die aanpassingsfase.  Soos ek die teorie deurlees herken ek dit van my tyd in Korea.  Dis dan wanneer jy begin aanpas en gewoond raak en jou eie ritme kry.  En besef dat die “normaal” wat jy so na gesmag het, nou net effe anders lyk.  Jy bereik weer ´n balans.  Ek is nog nie by hierdie fase nie.  Ek hoop die feit dat ek nie langer probeer wegkruip nie, is die begin van hierdie fase, want ek smag na die balans.  

Die vierde en laaste fase kom jy alleen teë wanneer jy besluit om terug te keer na jou eie land.  Die slim mense noem dit “omgekeerde  kultuurskok”.  Jy het so gewoond geraak aan jou nuwe normaal dat die “ou” lewe vreemd is.  En hierdie skok is dikwels erger as die aanvanklike kultuurskok in die vreemde land omdat dit totaal onverwags is.   ´n Vriend van my was vir ´n jaar terug Suid Afrika toe na hy 4 jaar in Korea was.  Hy het dit in ´n erge graad op die lyf geloop;  bo en behalwe die situasie wat hom in die eerste plek genoop het om terug te keer huis toe.

Daar is natuurlik verskillende maniere waarop die aanpassing verloop.  Mense is kompleks en reageer verskillend.  Vir ongeveer die helfte van alle expats is hulle gasland net te anders.  Hulle kan nie aanpas nie.  Hulle beleef die vreemde kultuur as vyandelik.  Daarom isoleer hulle hulself daarvan en skep dan hul eie leefwêreld waarin hulle hul  kultuur kan uitleef.  Dink maar aan die Chinatowns van Amerika.  Ek herinner my die expat kroeg in Korea wat ek so probeer vermy het.  Interessant genoeg sukkel hierdie mense ook om weer aan te pas  in hul eie land as hulle sou terug gaan huis toe.  

´n Klein groepie  ”goes native”.  Hulle dink die nuwe kultuur is so wonderlik dat hulle alles daarvan oorneem en totaal geïntegreer raak in die nuwe kultuur terwyl hulle hul eie kulturele identiteit verloor.  Hierdie mense bly ook aan en keer selde terug huistoe. 

Vir ´n derde van die expats is die aanpassinge minder traumaties, selfs as hulle terugkeer huis toe, of  in ´n ander nuwe land gaan woon.  Hulle sien positiewe dinge in die nuwe kultuur  en kan dit integreer in hul eie identiteit.  In effek skep hulle vir hulself ´n unieke kulturele  identiteit.

Ek hoop om tot hierdie laaste groep te kan behoort.  Maar alleen tyd sal leer.

Gister het ek die moed bymekaar geskraap om my e-pos oop te maak.  En elke berig te lees.  En te antwoord.  En ek sien sommer hoe jy jouself vra hoekom ´n mens moed nodig het vir so ´n alledaagse ding.  Dis dan so maklik.  Jy maak dit oop.  Vluglees.  Ignoreer die van jou baas en antwoord die van jou vriende.  Bevestig die braai vir Saterdag.  Gooi die gemorspos weg.  Stuur die grappie aan vir ander om ook te geniet….

My pos was tot oorlopens toe vol.  Bykans ´n 100.  Maar dit was dan ook pos van ´n paar maande…. van Februarie af al… In al hierdie tyd het ek my e-pos miskien vier maal oopgemaak.  En nooit gekyk na die inhoud nie.  Ek het dit oopgemaak omdat ek moes. 

But why? 

Dit was nie dat ek mense wou ignoreer nie.  Dit is dan die enigste kontak met my bekende wêreld.  Ek wou niemand seermaak in die proses nie, hoewel ek weet dit is waarskynlik wat gebeur het.  “Sy is nou getroud.  Sy bly nou in ´n ander land.  Ek is nou nie meer goed genoeg nie.”  Mense dink snaakse dinge.

Gister toe ek die briefies begin antwoord het was ek byna in trane.  Dit het seergemaak.  Al die opregtheid wat ek so lank geignoreer het.

En in werklikheid het ek vir maande weggekruip.  Het ek my eie emosies probeer spaar.  Dit het so seergemaak om briefies van my vriende te kry.  Die jarelange vriende in Suid Afrika.  Die nuwe-ou vriende in Korea.  Die afstande het soos tonne grond op my gedruk, dieper en dieper in ´n gat in.  Ek was in die sewende hemel van geluk in my nuwe huwelik.  En in ´n diep put van harstseer en verlange.  Dus het my beskermingsmeganisme ingetree – ignoreer alles wat seermaak.  Kruip weg.  Leef in ontkenning.

Maar dit kan ook nooit vir ewig duur nie.  Ek het geweet dat ek wegkruip.  En ek het nou die moed bymekaar geskraap om dit nie langer te ignoreer nie.  

Dit maak nog seer.  Ek kyk nie eens na ons troufotos nie.  Die verlange is nog te groot.  Maar ek wil nie meer wegkruip nie.

“Liefling, bring die tissues.”

Het jy al ooit daai hulpelose gevoel gehad?  Daai een wat jou bene en arms totaal lam laat?  Wat selfs jou veg- of vlugreaksie verlam? 

Ek verwys nou na ‘n reaksie op ‘n brokkie inligting.  En gewoonlik is dit die mees onverwagse inligting wat jou hierdie reaksie besorg.  Iets op die skaal van liggies en elektroniese klokkies wat skielik afgaan en jy eers wonder wat jy gebreek het voordat dit deurdring dat jy eintlik ‘n miljoen Rand ryker is, al het jy net 1 muntstuk in die gleufie gegooi.  Net om dan te besef dis nie jou masjien wat skreeu en raas nie, maar die een waar jy 10 sekondes gelede by weg is.  Die uiteindelike reaksie is ‘n flou laggie.  Want as jy nie lag nie, gaan jy huil.  Of wil jy nou eintlik eers huil voor jy lag?  Niemand weet ooit presies watter reaksie hulle moet hê nie. 

Moet jy huil oor jou absolute magteloosheid in die saak?  Of moet jy lag vir die totale absurdheid van die situasie?

Wel, vandag het ek daardie reaksie gehad.  En ek weet nou nog nie of ek nou eintlik wil lag of huil nie.

Ek sit in België en wag op ‘n stukkie papier wat dit vir my gaan moontlik maak om permanente verblyf hier te kry,  te mag werk soek, op my man se medies te wees en ag sommer ‘n honderd ander dingetjies moontlik te maak.  Die stukkie papier waarna ek verwys is ‘n volledige huweliksertifikaat, en dit moet uit Suid Afrika kom. 

Aangesien ons op die derde dag van hierdie jaar getroud is, in SA, was die redenasie dat die betrokke staatsdepartement teen hierdie tyd al die geposte dokumente moes gekry het om die huwelik te registreer.  Dus om die volledige sertifikaat aan te vra sou maklik en glad verloop.  Gewapen met die nodige dokumente en hope geduld was my ouers vroeg vanoggend daar.  Na ‘n skaflike uur se gewag het hulle by ‘n klerk uitgekom en toe hulle die inligting deurgee, moes hulle hoor dat hulle dogter nog ongetroud is.  Die huwelik is nog nie geregistreer nie.

Maar dit was nie die brokkie inligting verantwoordelik vir die trane en gelag nie…..

Na ‘n paar oproepe na die predikant en nog ‘n geselsie met die persoon by inligting, het my ouers eindelik ‘n meer senior beampte in die hande gekry.  As die predikant dit wel gepos het, moet die dokumente iewers op iemand se tafel wees, dan nie?  Die beampte het baie simpatiek geluister na die verhaal en al die dokumente by my ouers geneem om afskrifte te maak om op die saak in te gaan.  Hy verstaan ook dat die stukkie papier vreeslik belangrik is vir my verblyf hier in die verre vreemde.  En met die dat hy die afskrifte maak moes iets in sy verstand geklik het:  “Ons het nog nie gaan pos uithaal hierdie jaar nie.”

Vandag, met hierdie jaar al 28 dae oud, het ‘n groot en belangrike staatsdepartement in ‘n groot stad nog nie gaan pos uithaal sedert hierdie jaar begin het nie.

Ek kan my net probeer indink wat my ouers se reaksie was.  Blykbaar was my pa, die vurige boer wat hy is, stom.

Ek moet erken, van die al die verskonings wat ons al van staatsdepartemente gehoor het, is dit ‘n nuwe een.

Dus lag ons maar.  Wat anders kan mens doen?  En kry weereens al die dokumente (of afskrifte van dokumente) byeen sodat die huwelik hopelik gou geregistreer kan word.

‘n Stem uit die stilte!

Dankie, Wipneus en Jenny, dat julle my onthou en herinner…  Ek is nou weer by die huis en verbreek gou die stilte.

Mense is altyd propvol voornemens hierdie tyd van die jaar.  Wel, ek het maar een.  En dis een van lewenslange duur.  Nee, dis nie gewig verloor nie, of enige van die ander wat almal al op een of ander stadium op hul lysie gehad het nie.

Dis om my man en sy seun lief te hê.   En nie omdat ons weer probeer werk aan ons huwelik nie…..  Sien, ons is op 3 Januarie getroud.  En die beloftes wat ek op díe dag voor God en al die getuies gemaak het, is ernstiger as enige “nuwejaars voorneme” wat mens gewoonlik bedink.

En die nuwe dinge?  ‘n Man, ‘n seun, ‘n nuwe land, ‘n nuwe werk, nuwe vriende….  Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek dinge half doen nie.  Soms wens ek egter dat ek minder avontuurlustig was en dinge ‘n bietjie meer soos ‘n normale mens wou doen;  net so ‘n bietjie minder uitdagings op ‘n slag aanpak.  Maar dan was dit ook nie meer ek nie.  Of so sê die wat my al ‘n rukkie ken.

Maar een iets bly konstant.  En sal altyd dieselfde in my lewe bly – God.  Jaar in en jaar uit.  In watter situasie of land ek myself ookal bevind.  God se teenwoordigheid in my lewe en my afhanklikheid van Hom is die enigste konstante wat ek nodig het.  En solank ek aan God vasklou sal ek my beloftes van die 3de kan nakom.

Antwerpen.  Die naam van een van tien provinsies in België.  Die 2de grootste stad in die klein landjie.  Die 2de grootste hawe in Europa.  Stad van diamante en kant in die land van sjokolade en bier.  Stad van Pieter Paul Rubens, ‘n barok skilder van die 17de eeu.  Dis ‘n stad met geskiedenis.  ‘n Ou stad met wortels in die pre-middeleeue. 

 

Burcht aan die Schelde

Burcht aan die Schelde

Dis ‘n moderne stad trots op sy geskiedenis.  Dit restoureer en bewaar.  En voltooi.  Soos die goue toringtjies op die Antwerpen Centraal Station gebou wat op al die planne verskyn het, maar nooit die daglig aanskou het nie.  (Die gebou is in 1895 begin en in 1905 geopen en het die oorloë oorleef.)  

Stad onder restourasie

Stad onder restourasie

 Dis ‘n stad vol kultuur en kulture.  ‘n Kultere mengelmoes van lande en geure en kleure.  Dit het ek geweet toe ek hiernatoe gekom het.  Maar presies hoeveel kulture sou ek nooit kon raai nie.

Dit blyk dat daar iets soos ‘n handjie vol lande níe verteenwoordig word in hierdie ongelooflike stad nie.  Die plaaslike koerant, die Gazet van Antwerpen, het begin met ‘n reeks artikels wat hierdie multikulterele karakter vier.  Hulle het ‘n werêldkaart geneem en al die lande ingekleur waarvan daar minstens 1 persoon in Antwerpen bly.  Of so het hulle gedink.  ”Maar omdat zowat de hele wereld in Antwerpen te vinde is, hebben we alleen de lande ingekleurd waarvan u géén mensen in Antwerpen vindt.“  Heelwat minder werk.  Want van al die baie lande in die werêld  is maar 7 se burgers afwesig in Antwerpen.  Uhmmmm 8 - Swaziland is nie op hulle lys nie.  Dus moet jy nie hierheen kom as jy mense van Belize, Frans Guyana, Groenland, Westelike Sahara, Oman of die Verenigde Arabiese Emirate wil ontmoet nie.  Of Swaziland nie. 

Buitelanders wat jy die waarskynlikste sal raakloop is Nederlanders en Marokkane.  Hulle is ‘n geweldige teenwoordigheid (elk meer as 10 000 sterk).  Jy staan ook ‘n goeie kans om Pole of Turke raak te loop (meer as 4 000 burgers elk).  Mens hoef maar net na al die Turkse eetplekke te kyk om hulle raak te sien!  Die Suid-Afrikaners staan maar redelik laag op die lys met 77.  

Die Europese lande word natuurlik goed verteenwoordig.  Daarvoor sorg die Europese Unie en al die ooreenkomste wat daarmee saamgaan.  Afrika se getalle is ver onder die 500 per land, behalwe vir Nigerië (want hulle kry mens oral) en die Demokratiese Republiek van Congo wat ‘n kolonie van die Koningkryk van België was.  Maar selfs hierdie 2 lande se getalle is onder die 1000.  Maar of ‘n land nou 1 of 11 000 burgers in Antwerpen het.  Die land is verteenwoordig!

Die kulturele mengelmoes vind mens die duidelikste in die skole.  Laas jaar was daar in een skool kinders van 47 nasionaliteite.  Hoe bring mens die ouers van hierdie kinders almal bymekaar en kry hulle werksaam in die skool?  Die skoolhoof (of noem ons hulle direkteurs?) het op ‘n wonderlike oplossing afgekom.  Bring iets te ete.   Dan “….krijgen we bergen lekkers uit de hele wereld en iedereen proeft alles”, want wie hou nou nie van lekker eet nie?  

Dus gaan die hele projek, natuurlik, hand aan hand met ‘n resepte boekie.  En my mond water.  Van bobotie uit Suid Afrika tot ’n vispotjie uit Ysland.  Springrolls van Viëtnam tot warm sjokolade van Peru.  156 resepte van oor die ganse werêld.  En al hierdie geure in Antwerpen. 

‘n Stad van die werêld.  Of is dit die werêld in ‘n stad?

As ‘n Suid Afrikaner oor die verre blou water, lees ek die nuus en skud my kop en wonder en worry.  Gaan daar ‘n land vir my oorbly om na toe terug te gaan? 

Anders as so baie ander wat in self opgelegde ballingskap sit, het ek my vlerke gesprei om die wêreld te verken.  In die vaste hoop en vertroue dat ek weer sou terugkeer na die sonskyn land onder aan die suidpunt van Afrika.  ‘n Mooie land met soveel potensiaal.  En ten spyte van die moord en doodslag wat mens op die nuus kry, glo en hoop ek dat dit nie al is wat gebeur in daardie vaderland van my nie.  En verdedig ek my land wanneer ander dit afbreek met kritiek en uit onkunde.  (En wys hulle daarop dat hulle lande nie noodwendig beter as myne is nie.)   

En nou…… die politiek van die dag laat my sprakeloos.  Ek het net eenvoudig te min politieke kennis om hierdie nuwe verwikkelinge deur te volg tot die logiese einde toe.  Miskien is dit omdat mag van minder belang is vir my dat ek nie die politieke “leiers” se beweegredes verstaan nie.  Hulle motiewe is totaal duister vir my.  Omdat ek glo dat almal inherent “goeie” mense is?  En ander mense se belange op die hart dra?  En verantwoordelikheid aanvaar vir hulle dade?  Miskien. 

Spekuleer gaan nie help nie.  Worry gaan nie help nie.  Veral as dit die tipe worry is wat mens lamlê en keer om enigiets daadwerkliks te doen.  In my baie beperkte ervaring is daar egter een ding wat help.  Bid.  Ek bid vir my familie.  Vir my vriende.  Vir my land.  Vir die leierskap.  Dis tog ‘n goddelike opdrag: om te bid vir die leiers van jou land sodat die kinders van God Hom in vrede en rustigheid kan dien.     

Maar ek skud my kop en wonder oor die duister motiewe van ander.  Veral as hulle hulself as politieke leiers uitgee wat die welstand van hul land se mense op die hart dra.

Wat kan dan nou beter as ‘n boek in die hand?  Ene wat jou so besig hou dat die wêreld om jou tot stilstand kom. 

Ek hou van boeke, of enige geskrewe ding, wat my verstand en my verbeelding kan besig hou.  Iets waaruit ek iets kan leer; wat my laat dink oor myself of oor God of oor die wêreld waarin ons leef. 

Soms wens ek, ek kan in ‘n ander dimensie gaan wegkruip.  Sodat ek in vrede my boek kan klaar lees.  Waar ek vir niemand gou iets moet doen nie.  Salige gedagte!  Die beste ontvlugting.  Nou dat ek daaraan dink….. 

Ah, maar voor jy iets sê of dink dat ek stapelgek is, dit kan nie net sommer enige dimensie wees nie.  Ek dink aan byvoorbeeld die “Dungeon Dimension” van Terry Pratchett se Discworld-reeks waarin daar “Things” is wat net ‘n opening soek om die wêreld binne te val en oor te neem.  Of die vele dimensies waarna Sam en Rodney so baie verwys in Stargate.  Parallelle dimensies en heelalle (hoe gaan mens in Afrikaans van 1 heelal na 2?! Heelalle?!  Dit voel mos nou of ‘universes’ nie ‘n regte vertaling na Afrikaans toe het nie???)  Nee, daardie is almal heeltemal te ingewikkeld.  Selfs die dimensie waarna die Pevensies gaan wanneer hulle Narnia besoek is te wild vir my! 

Nee, hierdie moet ‘n baie spesifieke dimensie wees.  Daar is sekere streng vereistes.  (Hey, dis my dimensie.  Kry jou eie!)  Dit moet ’n gemaklike klimaat wees.  Nie te warm nie (te warm en ek kan nie konsentreer nie).  Nie te koud nie, of my voete en hande is ysblokkies.  Rustige agtergrond geluide - soos mens vind buite in die veld in die aand.  Miskien ‘n vuurtjie wat gesellig knetter en af en toe vonke die lug in skiet.  Hmmmmm, dit moet aand wees met ‘n duisternis sterre aan die swart hemel.  My oë moet natuurlik in die nag kan sien om te kan lees sonder ‘n hinderlike lig wat my blind maak vir alles buite die ligkring.  ‘n Baie gemaklike stoel sodat my rug glad nie seer raak nie (tall order!).  Geen konsep van tyd nie.  Niemand wat my gaan wil pla nie.  Miskien wel ’n ander persoon met wie ek iets insiggewinds of sommer net snaaks kan deel.  En die beste – wanneer ek die boek toemaak en terugkom na die wêreld toe, het daar nie juis tyd verloop in die hier en nou nie.  Wat beteken dat ek kan wegglip midde-in chaos en daardie allerinteressantste laaste 10 bladsye kan verslind.

Next Page »