Uit die 3 name (4 as jy my noemnaam wil bytel), moes die Koreane nou juis my laaste ene kies om op die Mediese Fonds kaartjie te sit…. Maar met die hele rits baie vreemde name, het hulle waarskynlik maar net kulturele protokol gevolg en die laaste naam gekies. Dis ook die maklikste uitspreekbaar vir hulle! Die Afrikaanse “oo”-klank vind meeste mense nogal moeilik!
Dus, word ek net Catharina of Catharina-nim genoem wanneer ek by die dokter is; wanneer ek siek is…. Soos nou weer. En ek word met so vervelende reëlmaat siek, dat ek dit byna kan beplan!
Maar hierdie keer is dit die ergste nog. My gestel was reeds effens laag met die wisseling van seisoene. En toe moes ek per ongeluk sampioene inkry….. En ‘n paar dae later broodkrummels in frikkadelle…. En dit was net mooi genoeg om allerhande virusse en dinge tot die oorlog te laat toetree. Op hierdie stadium sal ek nie verbaas wees as my klierkoors van lank lank gelede ook weer opgeduik het nie!
Maar kom ek verduidelik. Ek is allergies vir swamme. Ja, daardie blou are wat bloukaas sy oemf! gee. En sampioene (vaarwel gebraaide swart sampioene!). En gis (vaarwel bier, braaibroodjies en pizza!). En jogurt (snik). En alle gefermenteerde kosse (koebaai 90% Koreaanse disse).
Hier in die Ooste word gefermenteerde voedsel hoog aangeskryf vir verskeie voordelige gesondheidsredes. Die nasionale dis is kimch’i. Wat basies gefermenteerde kool met baie chillie byt is. Dis klaarblyklik op die lys van 10 mees gesondste kosse in die wêreld. So, probeer nou vir die man in die straat verduidelik dat jy BAIE siek raak daarvan… Of vir die kok-tannie dat sy dit nie in die rys moet gooi nie…
Ek kook meesal vir myself, en wanneer ek dalk sou toegee aan die versoeking om saam met kennisse middagete of aandete te gaan eet, is dit altyd ‘n proses om die bestandele te probeer uitvis. Want so gereeld soos wat mens kimch’i saam met jou maaltyd kry (elke liewe ete), gooi hulle sampioene in enige dis. Of as dit ‘n sopperige iets is, denjang – gefermenteerde sojaboonpasta – wat ook in die chilliepasta gegooi word wat aan meeste disse hulle smaak gee…. Met hierdie bykans onbegonne taak het ek al verskeie kere in die sop beland. En die griep-gelyke simptome binne dae ontwikkel.
Soms kom dit reg, en soms nie. Die laaste keer wou niks werk nie.
En dan sit mens met die baie eienaardige manier wat Koreaanse dokters mens ondersoek. Daar word nie ‘n hand op die pasiënt gelê nie. Geen bloeddruk word geneem nie. Geen geswelde kliere in die nek word bevroetel nie. Geen longe word na geluister nie. “But your face looks healthy” het ek ook nou weer gekry. Wat my laat wonder het hoe ‘n mens moet lyk wanneer jou kliere soos golfballe voel en te seer is om aan te raak en jy wil omval as jy regop kom. Gister toe die dokter lank genoeg na my luister om te besef ek kla van iets anders as net seer spiere, het hy die een klier in die waai van my elmboog bevoel en wou toe weet of ek baie tennis speel. Uhmmmm. En wat het dit met die prys van eiers uit te waai? Hy het byna so moedeloos gelyk soos ek voel omdat ek nou al vir die vierde keer terug is. O ja, en voor julle wonder hoekom vier keer…… die dokters skryf net medikasie vir 3 dae op ‘n slag voor. Dus gaan ek gewoonlik ‘n derde keer terug om my oor die laaste stuiptrekkings van ‘n allergie-veroorsaakte griep te help. Wel, die hoes is weg. En die drup in die keel is nou byna normaal soos ek altyd daaraan gewoond is. Maar die kliere…. en die duiseligheid….
Dus is ek steeds tuis, vir die 6de werksdag in ‘n ry, en het iemand gekry om my more na die groot hospitaal te vergesel om te kan tolk. Sou daar nog enige verdere misverstande wees! As ek ‘n rustige kantoorjobbie gehad het, sou ek nie so lank tuis gebly het nie. Maar ek kan myself die konsternasie voorstel as ek sou omkap voor ‘n klas vol 6-jarige kinders terwyl ek hulle probeer “a makes apple” leer. Hmmm. Kan komies wees….. Miskien ….
En ek het dit eintlik baie maklik. Omdat ek nie vir ‘n geldgedrewe besigheid werk nie, is my koordineerder en die Koreane met wie ek kantoorspasie by die biblioteek deel, baie simpatiek. Hulle dra lemoene en aarbeie aan. En maak byna ‘n oorlas van hulself in ‘n poging om my te help om beter te word. En twee studente het by my deur opgedaag. Een met koek (gelukkig weet almal van my allergie want hulle wou my al verskeie kere uitneem vir middagete) en die ander een met gedroogde Bellflower wortel wat mens voorberei met kookwater vir ‘n ernstige hoes. Almal is baie besorg oor my. Wat byna opmaak vir die frustrasies met die dokters!
Maar nee. Catharina-nim moet gesond word! En vinnig! Want sy gaan met vakansie volgende week Vrydag. Om vir haar nimlike Belg in die land van sjokolade en bier en frietes te gaan kuier.