April 2008


Uit die 3 name (4 as jy my noemnaam wil bytel), moes die Koreane nou juis my laaste ene kies om op die Mediese Fonds kaartjie te sit….  Maar met die hele rits baie vreemde name, het hulle waarskynlik maar net kulturele protokol gevolg en die laaste naam gekies.  Dis ook die maklikste uitspreekbaar vir hulle!  Die Afrikaanse “oo”-klank vind meeste mense nogal moeilik!

Dus, word ek net Catharina of Catharina-nim genoem wanneer ek by die dokter is; wanneer ek siek is….  Soos nou weer.  En ek word met so vervelende reëlmaat siek, dat ek dit byna kan beplan!   

Maar hierdie keer is dit die ergste nog.  My gestel was reeds effens laag met die wisseling van seisoene.  En toe moes ek per ongeluk sampioene inkry….. En ‘n paar dae later broodkrummels in frikkadelle…. En dit was net mooi genoeg om allerhande virusse en dinge tot die oorlog te laat toetree.  Op hierdie stadium sal ek nie verbaas wees as my klierkoors van lank lank gelede ook weer opgeduik het nie!

Maar kom ek verduidelik.  Ek is allergies vir swamme.  Ja, daardie blou are wat bloukaas sy oemf! gee.   En sampioene (vaarwel gebraaide swart sampioene!).  En gis (vaarwel bier, braaibroodjies en pizza!).  En jogurt (snik).  En alle gefermenteerde kosse (koebaai 90% Koreaanse disse).

Hier in die Ooste word gefermenteerde voedsel hoog aangeskryf vir verskeie voordelige gesondheidsredes.  Die nasionale dis is kimch’i.  Wat basies gefermenteerde kool met baie chillie byt is.  Dis klaarblyklik op die lys van 10 mees gesondste kosse in die wêreld.   So, probeer nou vir die man in die straat verduidelik dat jy BAIE siek raak daarvan…  Of vir die kok-tannie dat sy dit nie in die rys moet gooi nie…

Ek kook meesal vir myself, en wanneer ek dalk sou toegee aan die versoeking om saam met kennisse middagete of aandete te gaan eet, is dit altyd ‘n proses om die bestandele te probeer uitvis.  Want so gereeld soos wat mens kimch’i saam met jou maaltyd kry (elke liewe ete), gooi hulle sampioene in enige dis.  Of as dit ‘n sopperige iets is, denjang – gefermenteerde sojaboonpasta – wat ook in die chilliepasta gegooi word wat aan meeste disse hulle smaak gee….  Met hierdie bykans onbegonne taak het ek al verskeie kere in die sop beland.  En die griep-gelyke simptome binne dae ontwikkel. 

Soms kom dit reg, en soms nie.  Die laaste keer wou niks werk nie. 

En dan sit mens met die baie eienaardige manier wat Koreaanse dokters mens ondersoek.  Daar word nie ‘n hand op die pasiënt gelê nie.  Geen bloeddruk word geneem nie.  Geen geswelde kliere in die nek word bevroetel nie.  Geen longe word na geluister nie.   “But your face looks healthy” het ek ook nou weer gekry.  Wat my laat wonder het hoe ‘n mens moet lyk wanneer jou kliere soos golfballe voel en te seer is om aan te raak en jy wil omval as jy regop kom.  Gister toe die dokter lank genoeg na my luister om te besef  ek kla van iets anders as net seer spiere, het hy die een klier in die waai van my elmboog bevoel en wou toe weet of ek baie tennis speel.  Uhmmmm.  En wat het dit met die prys van eiers uit te waai?   Hy het byna so moedeloos gelyk soos ek voel omdat ek nou al vir die vierde keer terug is.  O ja, en voor julle wonder hoekom vier keer…… die dokters skryf net medikasie vir 3 dae op ‘n slag voor.  Dus gaan ek gewoonlik ‘n derde keer terug om my oor die laaste stuiptrekkings van ‘n allergie-veroorsaakte griep te help.  Wel, die hoes is weg.  En die drup in die keel is nou byna normaal soos ek altyd daaraan gewoond is.  Maar die kliere…. en die duiseligheid…. 

Dus is ek steeds tuis, vir die 6de werksdag in ‘n ry, en het iemand gekry om my more na die groot hospitaal te vergesel om te kan tolk.  Sou daar nog enige verdere misverstande wees!  As ek ‘n rustige kantoorjobbie gehad het, sou ek nie so lank tuis gebly het nie.  Maar ek kan myself die konsternasie voorstel as ek sou omkap voor ‘n klas vol 6-jarige kinders terwyl ek hulle probeer “a makes apple” leer.   Hmmm.  Kan komies wees….. Miskien ….

En ek het dit eintlik baie maklik.  Omdat ek nie vir ‘n geldgedrewe besigheid werk nie, is my koordineerder en die Koreane met wie ek kantoorspasie by die biblioteek deel, baie simpatiek.  Hulle dra lemoene en aarbeie aan.  En maak byna ‘n oorlas van hulself in ‘n poging om my te help om beter te word.  En twee studente het by my deur opgedaag.  Een met koek (gelukkig weet almal van my allergie want hulle wou my al verskeie kere uitneem vir middagete) en die ander een met gedroogde Bellflower wortel wat mens voorberei met kookwater vir ‘n ernstige hoes.  Almal is baie besorg oor my.  Wat byna opmaak vir die frustrasies met die dokters!  

Maar nee.  Catharina-nim moet gesond word!  En vinnig!  Want sy gaan met vakansie volgende week Vrydag.  Om vir haar nimlike Belg in die land van sjokolade en bier en frietes te gaan kuier.

Hoekom nou juis 8 dinge?  Hoekom nie 7 nie?  Of 3?  Wat laat mense sekere getalle kies en nie ander nie?  Maar wag, ek dwaal…..   Dankie vir die “iets om te doen”,  Jen!    

8 Passies in my lewe:

1 My God

2 My kêrel

3 My familie

4 Boeke

5 Nuwe dinge ontdek

6 Musiek

7 Sjokolade (van my kêrel se land af, natuurlik – België…)

8 Boeke (oeps, het daai een al genoem, maar ek is passievol daaroor!)

 

8 Dinge wat ek wil doen voor ek doodgaan

(daar het ‘n hele klomp goed op die lysie bygekom sedert 3 maande gelede…)

1 In België leef en werk

2 Die Inka roete loop tot bo by Macchu Picchu

3 My vriende en familie vir my laat kom kuier in die vreemde!

4 In Egipte gaan rondloop 

5 Mont Blanc in die Franse Alpe gaan aandurf

6 ‘n Boek publiseer

7 ‘n Opgrawing in die Ou Wêreld meemaak

8 In die Namib woestyn deurnag op ‘n maanlose nag

 

8 Dinge wat ek gereeld sê

1 O bugger….

2 Niks!

3 Grote griet!

4 I forgot the word!

5 Bliksem

6 My donner

7 Hello hello hello!

8 Do you understand? Arra-yo?

 

8 Boeke wat ek onlangs gelees het (of nog mee besig is)

1 Vanya, Myrna Grant

2 The Map that changed the World - William Smith and the Birth of Modern Geology, Simon Winchester 

3 The Black Unicorn, Terry Brooks

4 People of the Book – the Forgotten History of Islam and the West, Zachary Karabell

5 Monstrous Regiment, Terry Pratchett

6 Going Postal, Terry Pratchett

7 The Chronicles of Narnia – The Voyage of the Dawn Treader, C.S. Lewis

8 Die Bybel

 

8 Liedjies waarna ek oor en oor kan luister

1 Zij – Marco Borsato

2 Storybook story – Mark Knopfler

3 Driven by you – Queen (enige iets van Queen)

4 U2 – enigiets

5 Keeping the dream alive – Freiheit

6 In die hemel is die Heer – Louis Brittz

7 Lust for life – Iggy Pop

8 99 Red Balloons – Goldfinger

 

8 Flieks wat ek al baie gesien het, en weer sal kyk, en weer sal kyk, en weer…

1 Lord of the Rings (al 3)

2 Star Wars (al 6!)

3 Love Actually

4 Ice Age

5 Starship Troopers

6 Space Odyssey 2001 (en die ander ene ook)

7 Alladin

8 Deksels, daar is so baie!

 

Mense wat dit moet doen:

1 Uhmmm… almal wat wil

Ek loop al hoe lank rond met die gedagte om ‘n blog te begin.  Toe ‘n vriendin my van hare vertel het ek besluit om die bul by die horings te pak.

Die vraag wat mens altyd besig hou is natuurlik waarmee begin jy?  Hoe betree jy hierdie effens intimiderende wêreld?  Ek het so bietjie op ‘n ander website rondgespeel, maar dis nie geskik vir blogging nie.  Dus gaan ek kortpad neem en ietsie plaas wat daar reeds verskyn het.  

That spring blood” geskryf Dinsdag 30 Oktober 2007

It’s October. It’s raining. Flowers are bursting forth with that silent trumpetcall that rushes through your veins. The dream fades…

Then you look at the mountian and cower behind a wall. Where is the spring sun’s warmth? The colours are beautiful, cascading down the mountain. But something is all wrong…

The spring call comes from thousands of miles away, pulling at your being. Like a bird you want to spread your wings and follow that lingering touch. South. South. Going back south! Wait for me, I’m coming!

But too late! They have all left…

A smile touches the eyes and tenderness caresses you. Like the animals of the south blood rushes through your veins. It’s time. Listen. The earth awakens from its long slumber. New life is flooding the plains.

Confusion reigns in this heart. The beautiful colours are the last dying throes of the trees. Defiantly brightening the mountains before winter spreads his dark deathly cloak. The biting wind lets you retreat into layers of warmth. The last sign of life the windows to your soul.

But the blood…!