Salig onbewus van die groot tragedie wat 11 kilometer onder my aan die ontvou was, het ek Maandagnag oor die Asiese vasteland gevlieg. Ek het probeer om nie te dink nie, my gedagtes afgesluit, my oë vasgenael op die klein skermpie voor my. Om my was dit doodstil en donker. Almal aan die slaap. Hoeveel mense het geweet van wat onder ons aan die gang was?
Ek was heeltemal te besig om te groet om na enigiets op te let. Geen televisie, radio of internet nie. Vasgevang in my eie wêreld van opgewondenheid en hartseer en verlange en geluk. Maandag was ons 3 dae verloof. En ek moes groet om die laaste paar maande van my kontrak te kom klaarmaak. Tien duisend kilometer van my geliefde af. Byna so ver soos die Weste van die Ooste verwyder is.
Die volgende dag het in ‘n waas verbygegaan. Donderdag het ek byna mens gevoel en my studente uitgevra oor wat nuus was. En hulle het my vertel. Van ‘n groot aardbewing wat Sjina geruk het. ‘n 7.9 Magnitude aardbewing wat duisende mense gedood het, ‘n stad en al die klein dorpies rondom gelykgemaak het met die aarde.
Vanaand het ek die moed bymekaar geskraap om na foto’s op die internet te kyk. En my hart het gebreek. Die aardbewing het niks en niemand ontsien nie. Huise, woonstelblokke, skole, kleuterskole…. Families is met wrede finaliteit uitmekaar geruk. Hoeveel van die mense wat ontsnap het en na vermiste geliefdes soek gaan ooit langs ‘n graf kan treur?
Terwyl ek opgewonde uitsien na my lewe aan die sy van my toekomstige man, huil ander vrouens hartverskeurend omdat hulle skielik wreed alleen gelaat is. In die twee weke wat ek in die wolke geleef het met my geliefde aan my sy, is ander mense se lewens verwoes.
Tussen die trane deur besef ek opnuut hoe vlietend ons lewe op hierdie onstabiele aarde is. Ons maak altyd planne en leef asof more so seker is soos wat die son opkom. Maar hoe seker kan ons regtig wees dat ons wel die son sal sien more?
Op 2 Mei het die aarde gedreun en ontplof. Die Chiaten vulkaan in die suide van Chile het warm as, gasse en lawa kilometers die lug ingegooi. Na duisende jare se slaap, het dit ontwaak en die mense in die omgewing genoodsaak om te vlug. As daardie dodelike wolk wat bo die dorp uittoring inmekaarsak sal dit die dorp versmoor. Die mense moes hul huise agterlaat. En op 12 Mei is hoeveel huise weggespoel na dit begin reën het.
Op 2 en 3 Mei het die hemele geopen en alles teen die aarde geslinger wat dit kon. ‘n Tropiese sikloon (of tifoon soos dit ook genoem word in Asië) het die Irrawaddy delta in Myanmar (die ou Burma) getref en alles platgevee wat in die pad was. Die geskatte dodesyfer is oor die honderdduisend mense. Wat die tragedie vererger is die junta regering se weiering om buitelandse hulp te aanvaar. Baie meer mense gaan sterf as gevolg van siektes omdat mense nie toegang het tot skoon water nie. En die delta is Myanmar se rysbak.
Op 12 Mei het die aarde geruk en gebewe en alles uitmekaar geskeur. Die ergste aardbewing in 30 jaar het sentrale Sjina getref en duisende mense het gesterf. Mans. Vrouens. Kinders. Jonk en oud moes buig voor die geweld. ‘n Hele stad is platgevee. Mensgemaakte strukture lê soos gebreekte vuurhoutjies gesaai. Hoevele dorpies in die berge is afgesny van die buitewêreld af sodat mense te voet moet vlug. Maar dit was nie die einde nie. Die rivier is opgedam deur grondverskuiwings en dit het begin reën. Die rivier kan dalk klaarmaak wat die aardbewing begin het.
Maar die fotos vertel nie net van dood en trane van verdriet nie. Dit vertel ook van trane van verligting en blydskap. ‘n Kind word vanuit die rommelwerf wat sy skool was gered. 4 Dae na die aardbewing. ‘n Hondjie eet versigtig ‘n stukkie brood uit die hand van die soldaat wat hom gered het. ‘n Babatjie gebore ‘n dag na die skudding. ’n Duitse toeris word gered na hy 114 ure toegeval was.
Hoe seker kan ons wees van die son more?
Ons kan net van een ding seker wees. En dit is dat ons almal doodgaan. Sommige se tyd is nou. Of more. Of volgende jaar. Of oor 20 jaar.
Dus oorleef die Chileane op die toelae wat hulle regering aan hulle uitbetaal tot hulle kan huistoe gaan en vergeet van die wolk. Die mense in Myanmar sal miskien hulp ontvang noudat die eerste buitelandse spanne toegelaat word om te help. Die Sjinese sal terugkeer en hulle stad en dorpe herbou en weer van vooraf begin.
En ek sal aangaan met droom oor my nuwe lewe en planne maak saam met my verloofde vir ons toekoms.
Die onsekerheid hang oor ons almal. Maar ons het lewens om te leef. En totdat dit my tyd is – of dit nou more of oor 30 jaar is – gaan ek droom en liefhê en leef.