Vandag het ek tot die slotsom gekom dat dinge nie meer so kan aangaan nie. My treë weifel al om die put se rant. Sommige dae kan ek die put skaars sien. Ander dae voel ek hoe trek die donker duisternis my na benede. Wanneer ek mooi kyk, kan ek die sirkelende paadjies sien wat my voete om die put uitgetrap het.
Nee! Genoeg is genoeg. Dis nie wie ek is nie! Wat het geword van daardie borrelende mens in my? Die een wat altyd gereed was om te lag of te glimlag? Vir wie die son altyd geskyn het? Al was dit ook bewolk?
Ek is veronderstel om histeries gelukkig te wees. Ek is verloof aan ‘n wonderlike man wat van God afgebid is. “Hoe kan dat dan nou?” soos hy sal vra met sy Vlaamse aksent. Ons is gelukkig saam. Ons vul mekaar aan. Ons het wonderlike drome vir ons toekoms. En die som van ons is meer as die dele wat daardie som maak. Ons trou sodra ek terug is by hom. En dis juis daar waar my hart ineenkrimp van verlange. Wanneer ek terug is…..
Dis 7 lange weke vandat ek hom moes groet in sy land en moes terugkeer na ’n land waar ek altyd ’n vreemdeling is. Ek het nog ‘n kontrak gehad om klaar te maak. Ek kon dit kwalik verbreek! En nou is daar nog 9 weke oor van die kontrak. En dit voel soos 9 eeue! Ek leef elke dag net vir daardie 2 uurtjies wat ons via die internet kan kuier. En wanneer my liggaam aandring op slaap groet ek met ‘n swaar gemoed. Dit voel of daar ‘n droogte in my siel kom lê het. En dis hier waar ek die streep trek. Vandag. Op hierdie mistige dag wat al die soveelste week merk sedert ek die son die laaste keer sien skyn het. Letterlik en figuurlik.
Vanaf vandag gaan ek elke dag aan iets moois of positiefs dink. Om hierdie donkerte in my te verlig.
Vrydagmiddag het ‘n 5 jarige studentjie van my vir my in baie mooi duidelike Engels gesê: “Teacher! I love you.” Met soveel gevoel. Haar gesiggie was baie ernstig en sy het my vas in die oë gekyk asof sy wou seker maak dat ek haar hoor en verstaan. Ek was besig om die goedjies bymekaar te probeer kry vir die roetine liedjie voor die klas begin. Ek wens ek kon haar daar en dan styf teen my vasdruk.
Ek noem haar my roomysdogtertjie. Omdat haar ma haar in die winter in die dikste roomys-pienk jassie geprop het wat sy in die hande kon kry. Van haar skoentjies tot die kroontjie van haar koppie waar haar donker haartjies altyd in ‘n bokstertjie vasgemaak is, was sy gewoonlik in roomys-pienk aangetrek. En sy het diep in my hart gekruip op een dag wat ek ook bietjie blou was. Sy het my hand geneem en daarop aangedring om saam met my die 2 stelle trappe af te klouter tot op die grondvloer. Ouma mag nie naby haar gekom het nie! Die geluidjies wat sy gemaak het en haar gesiggie wat eenvoudig gestraal het van tevredenheid en geluk het verseker dat sy sommer diep in my hart gekruip het daardie dag.
My roomys-dogtertjie is vandag my mooi gedagte.