Gistermiddag kom ek teësinnig by die biblioteek aangery na middagete. Ek neem die eerste ingang en ry die kort entjie tussen die satelliet poskantoor aan die eenkant en die breë voetingang aan die ander kant deur voor ek moet wegswaai om óm die groot gebou te kan ry sodat ek aan die agterkant kan gaan parkeer.
Terwyl ek stadig inry, bewonder ek die laning rankrose wat die stellasie oor die voetpad so mooi dig toerank en geurige rooi-pienk rose dra. Oral staan mense rond en gesels, of is haastig iewers heen oppad. Ek laat my oë oor die ronde lyne van die graniet en glas gebou gly. Een man staan op sy selfoon en gesels en heel op die punt van die laning rankrose staan ‘n seuntjie en…..
Wat?! Ek skop byna rem van ongeloof. Ek kan my oë skaars glo! Vinnig knip ek my oë om seker te maak ek sien wat ek sien. En dan bars ek uit van die lag.
Aan die einde van laning rankrose … byna reg voor die ingang na die kinderafdeling van die biblioteek … skaars 10 treë voor een van die afdelingsbestuurders van die biblioteek … in volle sig van almal wat rondloop en rondstaan … staan ‘n seuntjie van om en by 5 jaar en gee die welige groen gras water. Sy broekie lê om sy enkels op die gras. Hy hou sy blou gestreepte hempie hoog opgetrek met beide handjies. Sy gesiggie is die ene konsentrasie. Daar staan hy poedelkaal en sy lyfie vorentoe geboog sodat hy sy voete nie ook watergee nie.
Daai nood moes baie hoog gewees het! Arme kind. Ek wonder waar sy ma was op daai oomblik. As sy hom moes sien, sou sy sweerlik in die aarde weggesink het van skaamte en haar gesig nie weer by die biblioteek wou wys nie. Sulke dinge sien mens nooit in Korea nie! Nie eens kaalbolyf seuntjies wanneer dit regtig baie warm is nie! Laat staan nog kaalvoet.
Dis goed om te sien kinders bly kinders. En as die nood druk, maak jy ‘n plan!
Een van my eerste herinneringe aan hierdie dorp/stad is die dag toe ’n groot lorrie ons verbygesteek het. Opsigself is dit niks vreemd is nie. Maar op die laaste trappie voor jy in die kajuit klim het ‘n paar uitgetrapte modderbespatte sandale gelê. En wat daarvan? hoor ek jou sommer vra.
Wel, die locals sit nie ‘n voet in ‘n huis as hulle skoene aan het nie. Dié word almal by die deur uitgetrek en dan loop jy op jou kouse verder die huis in. Of as jy soos stomme kaalvoetkind uit Afrika altyd oop sandale dra SONDER kouse, loop jy kaalvoet in die huis rond en probeer nie ongemaklik voel omdat almal jou voete aanstaar nie. Die rede? Daar word op die vloere gesit en gekuier en geslaap (en selfs kos voorberei!) En as dit ‘n partytjie by iemand se huis is, moet jy letterlik oor die see van skoene klouter of daardeur waad voor jy binne is.
Gaan eet jy uit is daar twee areas om van te kies. ‘n Tafel met ongemaklike stoeltjies, of die verhoogde vloer waar jy plat op jou alie by ‘n lang lae tafel sit waar my knieë nooit onder-in pas nie. Die lekkerte van hierdie vloere is natuurlik dat hulle in die winter verhit word. Ahhhh! Salig so op die koue agterstewe.
By die gym aangekom trek jy jou buite-skoene uit wat in ‘n spesiale hokkie toegesluit word. Jy moet seker maak jy het ‘n paar oefen skoene wat goed skoon is waarmee jy dan kan oefen. Dus geen hardloop op die treadmill vandag en môre op die pad nie – behalwe as jy bereid is om die hardloop skoene elke keer te was!
By die klein elementêre skooltjie waar ek op ‘n Woensdag klas gee, los ek my “buite-skoene” by die deur en word voorsien van ‘n paar redelike lelike swart plastiese plakkies waarmee ek dan binne die skool en in my klasse mag rondloop. Die permanente onderwyseresse bring almal ‘n paar “binne-skoene” van die huis af waarin hulle kan werk en steeds “fashionable” kan lyk. By die klein bibliotekie gebeur dieselfde. Behalwe dat ek daar kan kies tussen sulke interessante bruin-pienk materiaal pantoffels (dit kan net pantoffels wees, dis gewis nie plakkies nie!), of blou plakkies wat alteveel lyk na daardie Adidas-plakkies wat mens se voete so lekker kan laat stink.
Dus kon ek my net voorstel wat binne-in hierdie lorrie se kajuit aangaan. Die bestuurder sit met kouse aan en bestuur en geen skoen word toegelaat binne-in nie. Of hy het sloffie-pantoffels aan.
En kan hierdie mense vinnig uit en in hulle skoene kom! Laas jaar toe die tegnikus my kabel-tv kom installeer het, moes hy gou uit om ‘n kabel of iets te gaan haal. My mond het oopgehang oor die spoed waarmee hy sy skoene kon aankry. Hy het so ‘n ingewikkelde draaibeweging met sy onderlyf gemaak – sy neus in die deur se rigting, en sy tone in my rigting. Sommer so in die draf was die skoene aan en hy uit! Maar dan, dis jaaaaaare se oefening.
En ekke? Hahahaha. My Koreaanse metgeselle moet altyd vir my wag. My skoene is gemaak om in die oggende aan te trek en saans by die huis weer uit te trek. Ek moet altyd met my hande aan my skoene vroetel om hulle ordentlik aan te kry – iets wat die locals noooooit doen nie. Die enigste ding wat ek geniet rondom die hele gebruik…… Ek is ‘n kaalvoet mens. Enige verskoning om dadelik van my skoene ontslae te kan raak gryp ek met beide hande aan!
Vanoggend ry ek in die groot wye straat af werk toe in die ou wit kar met sy middernag getinte vensters. Rustig hou ek by die snelheidsgrens, ten spyte van die afdraend wat net neig om swaartekrag die oorhand te laat kry, en die ongeduldige Koreaanse bestuurders wat verby my zoem.
Dis bewolk soos elke ander dag van die afgelope (hoe lank?!) drie weke al. Ek het die vensters afgerol om die koel luggie in die muwwerige kar te laat inspoel. Junie tot September is mos die maande in Korea wat die vog aan als kleef en niks ordentlik wil droog word nie.
En daar onthou ek ‘n gunsteling tydverdryf van my toe ek nog die sloer-roete tussen Johannesburg en Pretoria gedoen het op ‘n daaglikse basis. Elke middag het ek met oop vensters en my gunsteling rock musiek die dag se stress sit en uitsing en headbang op die snelweg. Tot groot vermaak of konsternasie van al die honderde bestuurders om my wat suurbek en stroef die ou voor hom uit die pad probeer ry. Ek het uit volle bors gesing en nie gehuiwer om behoorlik kop te skud nie! En glad nie omgee hoe belaglik ek lyk of selfs klink nie. Hoe harder hoe beter. En wanneer ek na 5 by my huisie aangekom het was ek vars en vrolik en die dag se stress vergete iewers tussen die Ben Schoeman se strepe en die stukkies glas en plastiek wat altyd oral gestrooi gelê het.
Terwyl ek so sit en mymer oor vervloe dae begin ‘n heerlike liedjie te speel. En so natuurlik soos dag en nag mekaar volg begin ek kliphard saam te sing. Vensters oop en singend cruise ek af in die groot dubbelpad en wonder watter indruk ek op die Koreane maak. Niemand hier sal ooit bewustelik ‘n spektakel van hulself maak nie. Wat sal die mense sê?!
Maar hoe kan mens dan ook nou anders met Michael Buble se “Feeling good”? Ek meen, hoe kan mens die liedjie luister EN geniet sonder om self te wil sing en dans?
◊◊◊◊◊◊
“Feeling Good”
Birds flying high
You know how I feel
Sun in the sky
You know how I feel
Breeze driftin’ on by
You know how I feel
It’s a new dawn
It’s a new day
It’s a new life
For me
And I’m feeling goodFish in the sea
You know how I feel
River running free
You know how I feel
Blossom on a tree
You know how I feel
It’s a new dawn
It’s a new day
It’s a new life
For me
And I’m feeling good
Dragonfly out in the sun you know what I mean, don’t you know
Butterflies all havin’ fun you know what I mean
Sleep in peace when day is done
That’s what I mean
And this old world is a new world
And a bold world
For me
Stars when you shine
You know how I feel
Scent of the pine
You know how I feel
Oh freedom is mine
And I know how I feel
It’s a new dawn
It’s a new day
It’s a new life
For me