September 2008


As ‘n Suid Afrikaner oor die verre blou water, lees ek die nuus en skud my kop en wonder en worry.  Gaan daar ‘n land vir my oorbly om na toe terug te gaan? 

Anders as so baie ander wat in self opgelegde ballingskap sit, het ek my vlerke gesprei om die wêreld te verken.  In die vaste hoop en vertroue dat ek weer sou terugkeer na die sonskyn land onder aan die suidpunt van Afrika.  ‘n Mooie land met soveel potensiaal.  En ten spyte van die moord en doodslag wat mens op die nuus kry, glo en hoop ek dat dit nie al is wat gebeur in daardie vaderland van my nie.  En verdedig ek my land wanneer ander dit afbreek met kritiek en uit onkunde.  (En wys hulle daarop dat hulle lande nie noodwendig beter as myne is nie.)   

En nou…… die politiek van die dag laat my sprakeloos.  Ek het net eenvoudig te min politieke kennis om hierdie nuwe verwikkelinge deur te volg tot die logiese einde toe.  Miskien is dit omdat mag van minder belang is vir my dat ek nie die politieke “leiers” se beweegredes verstaan nie.  Hulle motiewe is totaal duister vir my.  Omdat ek glo dat almal inherent “goeie” mense is?  En ander mense se belange op die hart dra?  En verantwoordelikheid aanvaar vir hulle dade?  Miskien. 

Spekuleer gaan nie help nie.  Worry gaan nie help nie.  Veral as dit die tipe worry is wat mens lamlê en keer om enigiets daadwerkliks te doen.  In my baie beperkte ervaring is daar egter een ding wat help.  Bid.  Ek bid vir my familie.  Vir my vriende.  Vir my land.  Vir die leierskap.  Dis tog ‘n goddelike opdrag: om te bid vir die leiers van jou land sodat die kinders van God Hom in vrede en rustigheid kan dien.     

Maar ek skud my kop en wonder oor die duister motiewe van ander.  Veral as hulle hulself as politieke leiers uitgee wat die welstand van hul land se mense op die hart dra.

Wat kan dan nou beter as ‘n boek in die hand?  Ene wat jou so besig hou dat die wêreld om jou tot stilstand kom. 

Ek hou van boeke, of enige geskrewe ding, wat my verstand en my verbeelding kan besig hou.  Iets waaruit ek iets kan leer; wat my laat dink oor myself of oor God of oor die wêreld waarin ons leef. 

Soms wens ek, ek kan in ‘n ander dimensie gaan wegkruip.  Sodat ek in vrede my boek kan klaar lees.  Waar ek vir niemand gou iets moet doen nie.  Salige gedagte!  Die beste ontvlugting.  Nou dat ek daaraan dink….. 

Ah, maar voor jy iets sê of dink dat ek stapelgek is, dit kan nie net sommer enige dimensie wees nie.  Ek dink aan byvoorbeeld die “Dungeon Dimension” van Terry Pratchett se Discworld-reeks waarin daar “Things” is wat net ‘n opening soek om die wêreld binne te val en oor te neem.  Of die vele dimensies waarna Sam en Rodney so baie verwys in Stargate.  Parallelle dimensies en heelalle (hoe gaan mens in Afrikaans van 1 heelal na 2?! Heelalle?!  Dit voel mos nou of ‘universes’ nie ‘n regte vertaling na Afrikaans toe het nie???)  Nee, daardie is almal heeltemal te ingewikkeld.  Selfs die dimensie waarna die Pevensies gaan wanneer hulle Narnia besoek is te wild vir my! 

Nee, hierdie moet ‘n baie spesifieke dimensie wees.  Daar is sekere streng vereistes.  (Hey, dis my dimensie.  Kry jou eie!)  Dit moet ’n gemaklike klimaat wees.  Nie te warm nie (te warm en ek kan nie konsentreer nie).  Nie te koud nie, of my voete en hande is ysblokkies.  Rustige agtergrond geluide - soos mens vind buite in die veld in die aand.  Miskien ‘n vuurtjie wat gesellig knetter en af en toe vonke die lug in skiet.  Hmmmmm, dit moet aand wees met ‘n duisternis sterre aan die swart hemel.  My oë moet natuurlik in die nag kan sien om te kan lees sonder ‘n hinderlike lig wat my blind maak vir alles buite die ligkring.  ‘n Baie gemaklike stoel sodat my rug glad nie seer raak nie (tall order!).  Geen konsep van tyd nie.  Niemand wat my gaan wil pla nie.  Miskien wel ’n ander persoon met wie ek iets insiggewinds of sommer net snaaks kan deel.  En die beste – wanneer ek die boek toemaak en terugkom na die wêreld toe, het daar nie juis tyd verloop in die hier en nou nie.  Wat beteken dat ek kan wegglip midde-in chaos en daardie allerinteressantste laaste 10 bladsye kan verslind.

Gister bevind ek myself toe alleen in Meir straat – die winkel straat in Antwerpen Sentraal.  En ek verkyk my aan die mense.  En ek voel woes ontuis.  En die mense voel almal vir my so vreemd. 

Jaja ek weet dis ‘n vreemde land, maar ek het nie verwag om so vreemd te voel nie.  Die mense lyk almal weird.  Die hele situasie kriewel sommer onder my vel.  Was jy al ooit op ‘n geselligheid tussen ‘n klomp mense waar jy alleen gevoel het?  Waar jy heeltemal ontuis gevoel het?  Dat jy nie daar hoort nie?  So asof jy op ‘n alien wêreld is?  

“Dude.  Where’s my planet?!”

Nee, vergeet van vae onrustighede wat krap aan die onderbewussyn.  WAT is verkeerd?  spreek ek myself toe aan.  As ek dit onder die mat gaan invee gaan dit net lê en sweer.  En dan bars daar iets baie onaangenaams uit! 

So begin ek toe rondkyk met oop oë.  Wat laat my so onrustig voel?  Wel, ek verkyk my aan die mense se neuse.  Goeiste!  Hierdie mense het almal sulke groot lang neuse!  Hulle loop almal agter hul neuse aan!  Ongemerk begin ek oplet na die mense om my se profiele.  Wraggies.  Die meeste het lang prominente neuse, kleinerige gesiggies en byna onopvallende kenne onder hierdie neuse asof dit nie wil groei in die skadu van hul reukorgaan nie.  Fyn, sagte haartjies.  Meesal lig van kleur.  En almal lyk maar blekerig.  (Wel, behalwe nou die mense wat Midde-Oosters is.)  Ahhhh.  En daar het ek dit. 

Onbewustelik vergelyk ek alles om my met Korea.  (Vrek!  Kry jou kop uit Korea uit, vrou!)  Die Koreane het groot, opvallende, breë gesigte.  Prominente wangbene.  Klein neusies in vergelyking met die opvallende beenstruktuur. Pikswart DIK hare.  As daar ‘n krul in iemand se hare is, is dit met baie geld en groot moeite verkry.  As daar ‘n ander kleur hare is, is dit dieselfde storie – chemies en baie geld.  In Korea lyk alles dieselfde.  Die geboue, die karre, die mense, hulle klere. 

Hier trek almal na hul smaak aan.  Elkeen ‘n individu.  Sommige mense lyk baie goed, ander sommer net slordig.  Mense is nie so image-bewus hier nie.  (En ons westerlinge is image-bewus, maar glad nie so erg soos die Koreane nie).

En dan, die groot rede dat ek so uit plek uit voel – ek word nie aangestaar nie!  Ek is heeltemal anoniem!  Ek verdwyn in die menigte.  Ek lyk soos die locals.  My kleredrag, wat in Korea redelik eksoties was, is baie baie gewoon hier.  Ek het nie een kyk gekry nie.  Ek is nie meer ‘n eksotiese vreemdeling met my krullerige bruin hare en wit vel en groot groen oë en gekurfde anatomie nie.  Ek lyk soos tientalle ander vroue.  Daar is selfs vrouens langer as ek!  My bloesies wat soms gewaagd gevoel het in Korea, is nou sommer byna konserwatief.  Ek mis my “rock-ster” status!

Toe ek teenoor Liefie my gevoelens van kultuurskok beskryf was sy antwoord ”Engel, jy sal ander klere moet dra as jy wil aandag trek.”   How true. 

Mense wat lank in die buiteland gewoon het, praat altyd van “reverse culture shock” wanneer hulle terugkeer na hul geboorteland toe.  Ek het nie geweet wat hulle bedoel nie.  Ek het gedink ek sou makliker in België aanpas as in Korea omdat dit soveel nader is aan die kultuur waarin ek groot geword het, as die Ooste.  Maar moenie glo nie.  Dit gaan moeiliker wees.  In Korea was ek gewoond dat absoluut elke ding anders sou wees.  Vir 2 jaar was dit my lewenswyse – “elke situasie wat ek vandag teëkom gaan anders en waarskynlik onverstaanbaar wees”.  Nou word ek gepootjie deur dinge wat ek gedink het ek verstaan het, of geweet het. 

Ek is nie gewoond aan ‘n verskeidenheid van keuses nie!  Gister probeer ons koeldrank in ‘n kafee te bestel.  En ek weet nie wat beskikbaar is nie.  Ek is gewoond daaraan dat die keuse “cider” (nie die alkohol nie dis lemonade) en coke is.  Skielik moet ek kies uit ‘n horde opsies.  Uhmmmmm.  Gee my ‘n lys asseblief dat ek kan sien!  Gelukkig het Liefie besef dat ek besig is met ‘n shut-down.  Toe kry hy vir my iets soortgelyk aan ginger ale.  En gisteraand toe ons frietes (slap tjips) bestel moes ek ‘n sous kies.  So….. wat is beskikbaar?  Weereens is daar geen lys nie.  Op die beste van tye neem dit my ‘n oomblik om ‘n besluit te neem.  As ek nie weet wat die opsies is nie, en dit nie kan sien nie, kies ek sommer maklik niks.  Ek is ‘n baie visuele mens.  Ek wil kan sien.  Of lees.  Of aanraak.  Om ‘n lys dinge vir my af te rammel in die dikke Nederlandse aksent met ‘n skoot “Aentwaerps” dialek ingegooi,  gaan sake verseker nie bevorder nie.  Dankie tog vir Liefie aan my sy.  Weereens het hy die dag gered.

Ek stem saam met elke iedere mens wat nog ooit vir lank in die buiteland gewoon het en dan terugkeer na sy geboorteland.  Reverseculture shock is worsethan the initial culture shock.  Toe ek in Korea aangeland het, het ek nie juis kultuurskok beleef nie.  Ek was homesick, maar ek het myself maklik aangepas daar.  Elke dag sou onverstaanbaar en onbekend wees.  Mens vind jou eie  balans daarin.  Hierdie keer gaan dit nie so maklik wees nie!  

Maar dis waaroor die lewe gaan.  Nuwe ontdekkings.  Nuwe ervarings.  Nuwe uitdagings.  Dit gaan ‘n groot avontuur wees om my balans hier te vind.  Waarskynlik ‘n groter uitdaging as wat ek besef het.  Maar ek is nie bereid om my tasse te pak en te vlug nie!  Ek floreer op uitdagings.  (Sê ek mos nou vir myself: ‘Myself, hoor jy?’)

België, BRING IT ON!

Vandag sit ek en skryf uit Antwerpen, België.  Ek het Suid Korea op 30 Augustus vaarwel toegeroep - tot groot vreugde van my verloofde.  Ek was ‘n week lank in warm, warmer, warmste Dubai.  (Eintlik het ons heeldag net in die lugverkoelde winkelsentrums rondgehang.  O ja, en in die sneeu gespeel!)  En Saterdag het ek my intrek in my nuwe huisie geneem.  Saam met my wonderlike Belg.  Hy het my selfs met ‘n bos bloedrooi rose op die stasie ingewag.   Uit sy vel uit dat ek uiteindelik tuis is – aan sy sy.

Na rus en slaap en baie bederf gaan ek vanmiddag die stad op my eie aandurf.  Liefie het gesorg dat ek mooi weet hoe en waar om die tram te neem en af te klim.  Maar ek doen dit vanmiddag alleen.  En dan ontmoet ons in die stad vir wat soos ‘n date voel.  (Dis hoe min dates ons gehad het – net ‘n gewone “ek kry jou 4 uur in die stad” voel soos ‘n date!)  Gewapen met ‘n kaart van die stad en ‘n tram kaartjie wat ek nog moet gaan koop by die koerante winkeltjie, voel ek gereed. 

Ek meen – hoe moeilik kan dit wees om jou weg te vind in ‘n stad wat Nederlands praat as jyself Afrikaans is?  As ek in Suid Korea my weg kon vind met handgebare en geen kaart nie, behoort Antwerpen kinderspeletjies te wees. 

Twee jaar gelede in Suncheon, Korea, was my maatstaf of ek sou kon oorleef :  Kan ek kos koop?  Kan ek weer my weg huistoe vind?  Die antwoord op beide was ‘n baie gerustellende JA!  Huis toe was so maklik soos val uit ‘n boom uit – kry ‘n taxi en se jou adres en siedaar!  Die kos was ietwat moeiliker, want aanvanklik moes ek prentjies lees om te probeer raai wat wat is.  Gelukkig lyk ‘n eier soos ‘n eier, maak nie saak waar in die wêreld jy is nie!  Olie kan bietjie moeiliker wees.  Sommige asyne lyk baie soos olie.  Hierdie keer is die kos vraag baie maklik.  Ek kan die etikette alles lees.  Selfs kyk of die gewraakte gis in iets is.  Huistoe is bietjie meer ingewikkeld.  Hier is nie so baie taxis nie, en hulle is duur.  Maar as ek die regte tram neem, is dit maklik.  En natuurlik, when all else fails, phone the man.  Hy sal my met liefde huistoe verduidelik of selfs kom haal as dit moet.   Dus, sal ek kan oorleef hier?  Ja, beslis.

Nou ja.  Nuwe Avontuur – goeie dag aan jou.  Ek sien al lank uit na hierdie dag.  Nou is ek hier, en jy gaan geleef word.