Gister bevind ek myself toe alleen in Meir straat – die winkel straat in Antwerpen Sentraal. En ek verkyk my aan die mense. En ek voel woes ontuis. En die mense voel almal vir my so vreemd.
Jaja ek weet dis ‘n vreemde land, maar ek het nie verwag om so vreemd te voel nie. Die mense lyk almal weird. Die hele situasie kriewel sommer onder my vel. Was jy al ooit op ‘n geselligheid tussen ‘n klomp mense waar jy alleen gevoel het? Waar jy heeltemal ontuis gevoel het? Dat jy nie daar hoort nie? So asof jy op ‘n alien wêreld is?
“Dude. Where’s my planet?!”
Nee, vergeet van vae onrustighede wat krap aan die onderbewussyn. WAT is verkeerd? spreek ek myself toe aan. As ek dit onder die mat gaan invee gaan dit net lê en sweer. En dan bars daar iets baie onaangenaams uit!
So begin ek toe rondkyk met oop oë. Wat laat my so onrustig voel? Wel, ek verkyk my aan die mense se neuse. Goeiste! Hierdie mense het almal sulke groot lang neuse! Hulle loop almal agter hul neuse aan! Ongemerk begin ek oplet na die mense om my se profiele. Wraggies. Die meeste het lang prominente neuse, kleinerige gesiggies en byna onopvallende kenne onder hierdie neuse asof dit nie wil groei in die skadu van hul reukorgaan nie. Fyn, sagte haartjies. Meesal lig van kleur. En almal lyk maar blekerig. (Wel, behalwe nou die mense wat Midde-Oosters is.) Ahhhh. En daar het ek dit.
Onbewustelik vergelyk ek alles om my met Korea. (Vrek! Kry jou kop uit Korea uit, vrou!) Die Koreane het groot, opvallende, breë gesigte. Prominente wangbene. Klein neusies in vergelyking met die opvallende beenstruktuur. Pikswart DIK hare. As daar ‘n krul in iemand se hare is, is dit met baie geld en groot moeite verkry. As daar ‘n ander kleur hare is, is dit dieselfde storie – chemies en baie geld. In Korea lyk alles dieselfde. Die geboue, die karre, die mense, hulle klere.
Hier trek almal na hul smaak aan. Elkeen ‘n individu. Sommige mense lyk baie goed, ander sommer net slordig. Mense is nie so image-bewus hier nie. (En ons westerlinge is image-bewus, maar glad nie so erg soos die Koreane nie).
En dan, die groot rede dat ek so uit plek uit voel – ek word nie aangestaar nie! Ek is heeltemal anoniem! Ek verdwyn in die menigte. Ek lyk soos die locals. My kleredrag, wat in Korea redelik eksoties was, is baie baie gewoon hier. Ek het nie een kyk gekry nie. Ek is nie meer ‘n eksotiese vreemdeling met my krullerige bruin hare en wit vel en groot groen oë en gekurfde anatomie nie. Ek lyk soos tientalle ander vroue. Daar is selfs vrouens langer as ek! My bloesies wat soms gewaagd gevoel het in Korea, is nou sommer byna konserwatief. Ek mis my “rock-ster” status!
Toe ek teenoor Liefie my gevoelens van kultuurskok beskryf was sy antwoord ”Engel, jy sal ander klere moet dra as jy wil aandag trek.” How true.
Mense wat lank in die buiteland gewoon het, praat altyd van “reverse culture shock” wanneer hulle terugkeer na hul geboorteland toe. Ek het nie geweet wat hulle bedoel nie. Ek het gedink ek sou makliker in België aanpas as in Korea omdat dit soveel nader is aan die kultuur waarin ek groot geword het, as die Ooste. Maar moenie glo nie. Dit gaan moeiliker wees. In Korea was ek gewoond dat absoluut elke ding anders sou wees. Vir 2 jaar was dit my lewenswyse – “elke situasie wat ek vandag teëkom gaan anders en waarskynlik onverstaanbaar wees”. Nou word ek gepootjie deur dinge wat ek gedink het ek verstaan het, of geweet het.
Ek is nie gewoond aan ‘n verskeidenheid van keuses nie! Gister probeer ons koeldrank in ‘n kafee te bestel. En ek weet nie wat beskikbaar is nie. Ek is gewoond daaraan dat die keuse “cider” (nie die alkohol nie dis lemonade) en coke is. Skielik moet ek kies uit ‘n horde opsies. Uhmmmmm. Gee my ‘n lys asseblief dat ek kan sien! Gelukkig het Liefie besef dat ek besig is met ‘n shut-down. Toe kry hy vir my iets soortgelyk aan ginger ale. En gisteraand toe ons frietes (slap tjips) bestel moes ek ‘n sous kies. So….. wat is beskikbaar? Weereens is daar geen lys nie. Op die beste van tye neem dit my ‘n oomblik om ‘n besluit te neem. As ek nie weet wat die opsies is nie, en dit nie kan sien nie, kies ek sommer maklik niks. Ek is ‘n baie visuele mens. Ek wil kan sien. Of lees. Of aanraak. Om ‘n lys dinge vir my af te rammel in die dikke Nederlandse aksent met ‘n skoot “Aentwaerps” dialek ingegooi, gaan sake verseker nie bevorder nie. Dankie tog vir Liefie aan my sy. Weereens het hy die dag gered.
Ek stem saam met elke iedere mens wat nog ooit vir lank in die buiteland gewoon het en dan terugkeer na sy geboorteland. Reverseculture shock is worsethan the initial culture shock. Toe ek in Korea aangeland het, het ek nie juis kultuurskok beleef nie. Ek was homesick, maar ek het myself maklik aangepas daar. Elke dag sou onverstaanbaar en onbekend wees. Mens vind jou eie balans daarin. Hierdie keer gaan dit nie so maklik wees nie!
Maar dis waaroor die lewe gaan. Nuwe ontdekkings. Nuwe ervarings. Nuwe uitdagings. Dit gaan ‘n groot avontuur wees om my balans hier te vind. Waarskynlik ‘n groter uitdaging as wat ek besef het. Maar ek is nie bereid om my tasse te pak en te vlug nie! Ek floreer op uitdagings. (Sê ek mos nou vir myself: ‘Myself, hoor jy?’)
België, BRING IT ON!