Antwerpen. Die naam van een van tien provinsies in België. Die 2de grootste stad in die klein landjie. Die 2de grootste hawe in Europa. Stad van diamante en kant in die land van sjokolade en bier. Stad van Pieter Paul Rubens, ‘n barok skilder van die 17de eeu. Dis ‘n stad met geskiedenis. ‘n Ou stad met wortels in die pre-middeleeue.
Dis ‘n moderne stad trots op sy geskiedenis. Dit restoureer en bewaar. En voltooi. Soos die goue toringtjies op die Antwerpen Centraal Station gebou wat op al die planne verskyn het, maar nooit die daglig aanskou het nie. (Die gebou is in 1895 begin en in 1905 geopen en het die oorloë oorleef.)
Dis ‘n stad vol kultuur en kulture. ‘n Kultere mengelmoes van lande en geure en kleure. Dit het ek geweet toe ek hiernatoe gekom het. Maar presies hoeveel kulture sou ek nooit kon raai nie.
Dit blyk dat daar iets soos ‘n handjie vol lande níe verteenwoordig word in hierdie ongelooflike stad nie. Die plaaslike koerant, die Gazet van Antwerpen, het begin met ‘n reeks artikels wat hierdie multikulterele karakter vier. Hulle het ‘n werêldkaart geneem en al die lande ingekleur waarvan daar minstens 1 persoon in Antwerpen bly. Of so het hulle gedink. ”Maar omdat zowat de hele wereld in Antwerpen te vinde is, hebben we alleen de lande ingekleurd waarvan u géén mensen in Antwerpen vindt.“ Heelwat minder werk. Want van al die baie lande in die werêld is maar 7 se burgers afwesig in Antwerpen. Uhmmmm 8 - Swaziland is nie op hulle lys nie. Dus moet jy nie hierheen kom as jy mense van Belize, Frans Guyana, Groenland, Westelike Sahara, Oman of die Verenigde Arabiese Emirate wil ontmoet nie. Of Swaziland nie.
Buitelanders wat jy die waarskynlikste sal raakloop is Nederlanders en Marokkane. Hulle is ‘n geweldige teenwoordigheid (elk meer as 10 000 sterk). Jy staan ook ‘n goeie kans om Pole of Turke raak te loop (meer as 4 000 burgers elk). Mens hoef maar net na al die Turkse eetplekke te kyk om hulle raak te sien! Die Suid-Afrikaners staan maar redelik laag op die lys met 77.
Die Europese lande word natuurlik goed verteenwoordig. Daarvoor sorg die Europese Unie en al die ooreenkomste wat daarmee saamgaan. Afrika se getalle is ver onder die 500 per land, behalwe vir Nigerië (want hulle kry mens oral) en die Demokratiese Republiek van Congo wat ‘n kolonie van die Koningkryk van België was. Maar selfs hierdie 2 lande se getalle is onder die 1000. Maar of ‘n land nou 1 of 11 000 burgers in Antwerpen het. Die land is verteenwoordig!
Die kulturele mengelmoes vind mens die duidelikste in die skole. Laas jaar was daar in een skool kinders van 47 nasionaliteite. Hoe bring mens die ouers van hierdie kinders almal bymekaar en kry hulle werksaam in die skool? Die skoolhoof (of noem ons hulle direkteurs?) het op ‘n wonderlike oplossing afgekom. Bring iets te ete. Dan “….krijgen we bergen lekkers uit de hele wereld en iedereen proeft alles”, want wie hou nou nie van lekker eet nie?
Dus gaan die hele projek, natuurlik, hand aan hand met ‘n resepte boekie. En my mond water. Van bobotie uit Suid Afrika tot ’n vispotjie uit Ysland. Springrolls van Viëtnam tot warm sjokolade van Peru. 156 resepte van oor die ganse werêld. En al hierdie geure in Antwerpen.
‘n Stad van die werêld. Of is dit die werêld in ‘n stad?

