‘n Stem uit die stilte!

Dankie, Wipneus en Jenny, dat julle my onthou en herinner…  Ek is nou weer by die huis en verbreek gou die stilte.

Mense is altyd propvol voornemens hierdie tyd van die jaar.  Wel, ek het maar een.  En dis een van lewenslange duur.  Nee, dis nie gewig verloor nie, of enige van die ander wat almal al op een of ander stadium op hul lysie gehad het nie.

Dis om my man en sy seun lief te hê.   En nie omdat ons weer probeer werk aan ons huwelik nie…..  Sien, ons is op 3 Januarie getroud.  En die beloftes wat ek op díe dag voor God en al die getuies gemaak het, is ernstiger as enige “nuwejaars voorneme” wat mens gewoonlik bedink.

En die nuwe dinge?  ‘n Man, ‘n seun, ‘n nuwe land, ‘n nuwe werk, nuwe vriende….  Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek dinge half doen nie.  Soms wens ek egter dat ek minder avontuurlustig was en dinge ‘n bietjie meer soos ‘n normale mens wou doen;  net so ‘n bietjie minder uitdagings op ‘n slag aanpak.  Maar dan was dit ook nie meer ek nie.  Of so sê die wat my al ‘n rukkie ken.

Maar een iets bly konstant.  En sal altyd dieselfde in my lewe bly – God.  Jaar in en jaar uit.  In watter situasie of land ek myself ookal bevind.  God se teenwoordigheid in my lewe en my afhanklikheid van Hom is die enigste konstante wat ek nodig het.  En solank ek aan God vasklou sal ek my beloftes van die 3de kan nakom.