Het jy al ooit daai hulpelose gevoel gehad?  Daai een wat jou bene en arms totaal lam laat?  Wat selfs jou veg- of vlugreaksie verlam? 

Ek verwys nou na ‘n reaksie op ‘n brokkie inligting.  En gewoonlik is dit die mees onverwagse inligting wat jou hierdie reaksie besorg.  Iets op die skaal van liggies en elektroniese klokkies wat skielik afgaan en jy eers wonder wat jy gebreek het voordat dit deurdring dat jy eintlik ‘n miljoen Rand ryker is, al het jy net 1 muntstuk in die gleufie gegooi.  Net om dan te besef dis nie jou masjien wat skreeu en raas nie, maar die een waar jy 10 sekondes gelede by weg is.  Die uiteindelike reaksie is ‘n flou laggie.  Want as jy nie lag nie, gaan jy huil.  Of wil jy nou eintlik eers huil voor jy lag?  Niemand weet ooit presies watter reaksie hulle moet hê nie. 

Moet jy huil oor jou absolute magteloosheid in die saak?  Of moet jy lag vir die totale absurdheid van die situasie?

Wel, vandag het ek daardie reaksie gehad.  En ek weet nou nog nie of ek nou eintlik wil lag of huil nie.

Ek sit in België en wag op ‘n stukkie papier wat dit vir my gaan moontlik maak om permanente verblyf hier te kry,  te mag werk soek, op my man se medies te wees en ag sommer ‘n honderd ander dingetjies moontlik te maak.  Die stukkie papier waarna ek verwys is ‘n volledige huweliksertifikaat, en dit moet uit Suid Afrika kom. 

Aangesien ons op die derde dag van hierdie jaar getroud is, in SA, was die redenasie dat die betrokke staatsdepartement teen hierdie tyd al die geposte dokumente moes gekry het om die huwelik te registreer.  Dus om die volledige sertifikaat aan te vra sou maklik en glad verloop.  Gewapen met die nodige dokumente en hope geduld was my ouers vroeg vanoggend daar.  Na ‘n skaflike uur se gewag het hulle by ‘n klerk uitgekom en toe hulle die inligting deurgee, moes hulle hoor dat hulle dogter nog ongetroud is.  Die huwelik is nog nie geregistreer nie.

Maar dit was nie die brokkie inligting verantwoordelik vir die trane en gelag nie…..

Na ‘n paar oproepe na die predikant en nog ‘n geselsie met die persoon by inligting, het my ouers eindelik ‘n meer senior beampte in die hande gekry.  As die predikant dit wel gepos het, moet die dokumente iewers op iemand se tafel wees, dan nie?  Die beampte het baie simpatiek geluister na die verhaal en al die dokumente by my ouers geneem om afskrifte te maak om op die saak in te gaan.  Hy verstaan ook dat die stukkie papier vreeslik belangrik is vir my verblyf hier in die verre vreemde.  En met die dat hy die afskrifte maak moes iets in sy verstand geklik het:  “Ons het nog nie gaan pos uithaal hierdie jaar nie.”

Vandag, met hierdie jaar al 28 dae oud, het ‘n groot en belangrike staatsdepartement in ‘n groot stad nog nie gaan pos uithaal sedert hierdie jaar begin het nie.

Ek kan my net probeer indink wat my ouers se reaksie was.  Blykbaar was my pa, die vurige boer wat hy is, stom.

Ek moet erken, van die al die verskonings wat ons al van staatsdepartemente gehoor het, is dit ‘n nuwe een.

Dus lag ons maar.  Wat anders kan mens doen?  En kry weereens al die dokumente (of afskrifte van dokumente) byeen sodat die huwelik hopelik gou geregistreer kan word.