Kultuurskok is ´n term wat Kalervo Oberg in 1954 gebruik het om aan mense hulle emosies rondom kruiskulturele kontak te verduidelik.  Hy was ´n antropoloog.  En het self  in verskillende lande gebly en gewerk en het dus eerste handse ondervinding gehad. 

Voordat ek ooit ´n voet oor ´n grens gesit het, het ek vaagweg verstaan dat dit te make het met aanpassingsprobleme in ´n nuwe land of omgewing.  Toe ek in Korea was het ek dit in ´n ligte graad gehad, maar dit probeer hanteer en probeer aanpas en die beste van die situasie gemaak.  Ek het hier in België besef presies waardeur sommige kollegas in Korea gegaan het.  Hier het ek kultuurskok teë gekom in al sy lelike dimensies.  En ek het besef dat ek nog altyd eintlik gepraat het sonder dat ek werklik verstaan het.

Die wittebrood fase het ek iewers laas jaar al deurgegaan toe ek die eerste keer hier kom kuier het.  Maar miskien het ek dit nie besef nie, omdat ek so dolverlief was op die man dat ek die land gemis het…. Ek weet die tafelblad plat landskap het ´n geweldige indruk gemaak op my, soos ook die eeue-oue geboue (en die groot aantal hase!).  Huise, kastele en kerke wat gebou was toe die Boesmans nog oor groot dele van Suider Afrika kon trek.

Die tweede fase het ek bereik kort voor ek terug is Suid Afrika toe in November.  Ek het dit nie besef nie en dit toegeskryf aan die feit dat ek besig was om ´n troue te probeer reël oor duisende kilometers.  Dis net die gewone voorhuwelikse bewerasies, man!  Met die gevolg dat toe ek in  Januarie in die bittere nat koue land, ek nie voorbereid was op hoe intens my reaksie sou wees nie.  Die mense was lelik en ek kon nie ophou staar na hul groot neuse nie!  Hierdie was wraggies die onderhandelingsfase.  Ek moes op ´n stadium teenoor myself erken dat ek niks goeds in hierdie land sien nie.  Ek hou nie van hoe werknemers behandel word nie.  Ek vind die doktersituasie belaglik.  (Wie wil nou wag vir die een uur spreekkamer tyd wat ´n dokter het omdat hy die res van die dag huisbesoek doen?  En waar het jy gehoor daarvan dat as jy ´n inspuiting moet kry, gee hy jou eers ´n voorskrif wat jy dan die volgende dag na die apteek moet neem om die botteltjie vloeistof te kry sodat jy dan weer na hom moet gaan om uiteindelik die dekselse spuit te kry?  En jy betaal vir elke dekselse besoek, hoor.)  Die realiteitsreekse is om van te ween.  Die enigste goeie goed op TV is CSI en NCIS en Bones – die goeie ou Amerikaanse reekse.  Vir lank moes ons rugby in Frans (!) kyk omdat ons diensverskaffer dit nie nodig geag het om BBC 1 en 2 uit te saai nie.  En dit was geen ordentlike rugby nie.  Net die Suidelike Halfrond kan rugby speel….

Soos jy seker kan aflei is ek nog lank nie uit hierdie fase uit nie.  Ek het uiteindelik teen Paasfees besef dat ek aan kultuurskok lei toe ek saam met my man en sy vriende ´n flooimark besoek en die besef my tref dat alles anders is.  Niks is hoe ek dit ken of aan gewoond is nie.  En skielik kon ek nie ophou huil nie.  Vir 2 dae aanmekaar.  Ek het gedink die frustrasie en buierigheid was omdat ons steeds gewag het vir ons huweliksertifikaat uit Suid Afrika uit en ek dus steeds nie mag gewerk het nie.  Maar dit was maar ´n klein deeltjie daarvan.  Ek is stewig in die greep van kultuurskok en solank ek dit nie kon raaksien nie, sou dit net vererger.  Die depressie het ek gedeeltelik vrygespring.  En hoe kon dit dan nou anders as jy getroud is met die wonderlikste man op aarde?

Volgens die slim mense met die dik brille is daar ´n derde fase, die aanpassingsfase.  Soos ek die teorie deurlees herken ek dit van my tyd in Korea.  Dis dan wanneer jy begin aanpas en gewoond raak en jou eie ritme kry.  En besef dat die “normaal” wat jy so na gesmag het, nou net effe anders lyk.  Jy bereik weer ´n balans.  Ek is nog nie by hierdie fase nie.  Ek hoop die feit dat ek nie langer probeer wegkruip nie, is die begin van hierdie fase, want ek smag na die balans.  

Die vierde en laaste fase kom jy alleen teë wanneer jy besluit om terug te keer na jou eie land.  Die slim mense noem dit “omgekeerde  kultuurskok”.  Jy het so gewoond geraak aan jou nuwe normaal dat die “ou” lewe vreemd is.  En hierdie skok is dikwels erger as die aanvanklike kultuurskok in die vreemde land omdat dit totaal onverwags is.   ´n Vriend van my was vir ´n jaar terug Suid Afrika toe na hy 4 jaar in Korea was.  Hy het dit in ´n erge graad op die lyf geloop;  bo en behalwe die situasie wat hom in die eerste plek genoop het om terug te keer huis toe.

Daar is natuurlik verskillende maniere waarop die aanpassing verloop.  Mense is kompleks en reageer verskillend.  Vir ongeveer die helfte van alle expats is hulle gasland net te anders.  Hulle kan nie aanpas nie.  Hulle beleef die vreemde kultuur as vyandelik.  Daarom isoleer hulle hulself daarvan en skep dan hul eie leefwêreld waarin hulle hul  kultuur kan uitleef.  Dink maar aan die Chinatowns van Amerika.  Ek herinner my die expat kroeg in Korea wat ek so probeer vermy het.  Interessant genoeg sukkel hierdie mense ook om weer aan te pas  in hul eie land as hulle sou terug gaan huis toe.  

´n Klein groepie  ”goes native”.  Hulle dink die nuwe kultuur is so wonderlik dat hulle alles daarvan oorneem en totaal geïntegreer raak in die nuwe kultuur terwyl hulle hul eie kulturele identiteit verloor.  Hierdie mense bly ook aan en keer selde terug huistoe. 

Vir ´n derde van die expats is die aanpassinge minder traumaties, selfs as hulle terugkeer huis toe, of  in ´n ander nuwe land gaan woon.  Hulle sien positiewe dinge in die nuwe kultuur  en kan dit integreer in hul eie identiteit.  In effek skep hulle vir hulself ´n unieke kulturele  identiteit.

Ek hoop om tot hierdie laaste groep te kan behoort.  Maar alleen tyd sal leer.