Junie 2009


Vanoggend staan ek in die stort en gesels met myself.  Ek dink aan die opdraande stryd vir my om werk te kry.  Ek dink aan hoe ek dit moet bewoord as ek in ´n  onderhoud sit en gevra word hoekom ek vir solank nie gewerk het nie.  Hoe bewoord ek dit dat ek op hierdie ouderdom ´n werk soek wat niks met my ervaring of selfs belangstellings te make het nie.  En so gaan die gedagtes op hulle normale gang voort.  Tot ek besef….

Wat doen ek?  Wat sê ek aan myself?  Ek het die gedagtes weer laat terugspeel en ek was geskok.  Negatief.  Dis alles negatief!  My gedagtes van dae, weke is grotendeels negatief.  En hoe voel ek op hierdie oomblik?  Magteloos, byna moedeloos.  En dit omdat ek na nonsens luister.  Nonsens wat ek aan myself vertel!  Ek is my eie ergste kritikus.  En ek glo myself omdat ek dit oor en oor vir myself vertel. 

Hoeveel mense loop nie daar buite rond met dieselfde probleem nie?  Jy weet, daardie knaende gesprekke wat jy met jouself voer?  Jy kan dit nie doen nie…. Jy het nie die kennis nie…. Jy het nie die ervaring nie…. Kyk wat het so-en-so al bereik… Kyk watter fout het jy daar gemaak…. en daar…. en daar…. Kyk hoe het jy daai situasie hanteer…. Kom ons vergeet heeltemal van daai keer….

Negatiewe gedagtes en negatiewe emosies wat oor en oor deur jou gedagtes maal.  En dis nie nuwes nie.  Dit word net elke keer ge-recycle.  Vir dae kan ´n mens so rondloop, vasgevang in jou innerlike dialoog.  Tot jy jouself glo.  Tot jy by moedeloos verby is. 

 En hoeveel mense besef dat hulle hul eie grootste vyande is?  Dat hulle daardie negatiewe fluistering moet stop sit?  Hoeveel mense weet dat as hulle onmiddelik iets positiefs dink wanneer hulle besef hulle dink negatief, dit later ´n gewoonte word.  ´n Positiewe gewoonte.  Ek dink dat ek wel kan…. Ek kan dit doen…. en dit …. Ek hou van …. My vriende dink ek is goed met …. Ek het … al reggekry!  Positiewe gedagtes om die negatiewes te vervang.  Om nuwe lewenskrag te gee.  Nuwe moed.  Nuwe hoop.

Daar is hoeveel “life-coaches” wat ons vertel dat ons ons negatiewe gedagtes moet hokslaan en vervang met positiewe gedagtes.  En dit oor en oor te herhaal tot ons dit glo.  Dis hoe ons die negatiewe dinge van onsself glo…. ons het lank genoeg daarna geluister dat ons dit vir die waarheid aanvaar… Daarom kan dit werk vir die positiewe gedagtes ook.  Positiewe gedagtes en positiewe emosies.  Daar is gesondheidsinstrukteurs wat dit ook verkondig.  Vertel jouself jy hou van gesond wees, en fiks wees.  Dat jy hou van aktief wees, van gesonde kos.  Vertel dit oor en oor aan jouself.  Tot jy dit glo. 

Makliker gesê as gedaan.  Dit neem tyd en vasbyt om gewoontes te verander.  Vra iemand wat probeer ophou naels kou.  Maar die wonderlike daarvan is… vryheid.  Verandering.  Verbetering.

Maar weet julle wat die wonderlikste van hierdie lewenswaarheid is?  Filosowe het dit nie oorspronklik bedink nie.  Ook nie life-coaches nie.  Ook nie al die self-help psigoloë nie.  Hierdie waarheid kom van Christus af, van God af.   

“… ek maak my los van wat agter my is en strek my uit na wat voor is.”  Klink dit bekend?  Die self-help ouens vertel ons dat ons van die verlede moet vergeet, dis verby.  Jy kan nie in die verlede bly leef nie.  

“Julle gees en gedagtes moet nuut word.”  Klink dit bekend?  Die selfhelp ouens sê jy moet nuwe positiewe gedagtes dink.

Klink dit bekend?  Paulus het dit gesê.  In Filippense 3.  Onthou julle wie Paulus was?  Saulus wat Christene vervolg het.  Wat sou gebeur het as hy aan die verlede bly vasklou het?  Hy sou nie ´n kwart van die mense bereik het wat hy het nie.  Maak  jou los van die verlede, van die negatiewe dinge wat jou vaskettting op een plek.

Klink dit bekend?  Dit was weer Paulus.  In Efesiërs 3.  Oor hoe jy moet breek met die ou negatiewe gedagtes.  Jou gedagtes word nuut, wanneer jy nuwe gedagtes dink.  Dit gaan nie vanself kom nie.  Daardie negatiewe gedagtes het jy daar geplant, jy kan positiewe gedagtes plant.

Jou praat met jouself het baie meer krag as wat jy dink.  En dis nie net New Age sielkunde nie.  Dis ´n lewenswaarheid.  Dit geld vir almal.

Vanoggend het ek by personeelagentskappe my CV gaan ingee.  Of probeer.  Sommiges is heel behulpsaam en ander minder behulpsaam.  Sodra hulle hoor dat ek ´n buitelander is kan ek sien hoe hulle begin kriewel. 

Toegegee, my Nederlands is ver van perfek af, en ek verstaan geen enkele woord Frans nie.  Of Duits nie.  Of Portugees nie.  Nee, selfs nie Arabies, Turks of Marokkaans nie.  Jammer.  En ook nie Russies nie, nee.  Ek praat wel Engels, maar die helfte van die Belge kan Engels klappen, soos hulle op Vlaams sê. 

Hmmmm.  België, die land met 3 amptelike tale waarvan weinig in die alledaagse omgang gepraat word.  Neem bv. die noorde van die land.  Hulle praat amptelik Nederlands.  Maar glo my, die mense op straat praat alles behalwe dit.  O nee, hulle praat Vlaams.  En elke groot dorp het sy eie dialek!  (Ter verwysing – België is rofweg so groot soos Lesotho, het 10 provinsies, 3 streke, 3 gemeenskappe, 6 parlemente, 6 regerings en ´n koning.  Verskillende dialekte maak dus ook sin….. )   

Hier in Antwerpen praat hulle Antwaarps, ´n plaaslike dialek.  En mens moet mooi luister om dit te verstaan.  Die uitspraak klink baie Kaaps, met ´n skoot Nederlands wat goed deurspek is met hul eie geursel.  Liefie en sy familie kom van Londerzeel, so 30 minute se ry van hier, en hulle praat die dialek van daar.  Met die vreemdste uitspraak vir die “ui” in buite.  Dit klink soos mense wat nie weet dat die “ui” ´n saamgestelde klinker is nie, en elke letter probeer uitspreek met so ´n vreeslike oorronding wat die Pretorianers na Kapenaars laat klink.  En drie  klink eerder soos die Engelse dry.  Toe skoonma my die eerste keer vertel dat sy ´n valling het, het ek net beleefd geglimlag terwyl my brein allerhande moontlike betekennise van die woord probeer het.  Sy het my toe ingelig dat dit verkoue beteken.  Ah!  Skoonma was siek.  Sjoe.  Ek het al gesien hoe lê sy met ´n gebreekte been of iets.

En dan praat ek nog nie eens van Nederlands nie.  Die Belge vind Nederlands ook moeilik.  Byna alle meervoude kry ´n -en agteraan.  Let op ek sê byna – ek het al my vingers verbrand met daai reël. Vingers is ´n uitsondering….  En dan kry sommige werkwoorde ´n -t of -dt agteraan.  En kan kan kan bly of kunnen word.  Zij beteken sy óf hulle.   En onthou julle die lyste Engelse werkwoordvervoegings wat jy uit jou kop moes leer op skool?  Werkwoorde soos go – went – went?  Helaas, Nederlands het dit ook : gaan – ging – gegaan, of slaan – sloeg – geslagen.  En daar is natuurlik uitsonderings op alles.  En man, is Nederlands lief vir die -ch- .  Soos in schat of acht. 

Laasweek het ek gaan toets skryf by die organisasie wat buitelanders se Nederlands-vaardighede toets en les gee ens.  Dis nou lees, skryf, praat, alles.  Met die verstaan het ek geen probleme mee gehad nie, soos meeste Afrikaanssprekendes.  Maar dis daai skryf.  Toe die toets nagesien word het die meisie so ´n enigmatiese glimlaggie om haar lippe gehad.  En glo my, ek het al die tipiese Afrikaanse foute gemaak.  Geen -t of -dt.  Die -ch- was     -k- of -g-, en byna was die ik ek.  Soveel soos ons die Kapenaars altyd gespot het oor hulle ikke, spot my man my nou oor my ekke.   Ek is nou ingeskryf vir ´n baie intensiewe Nederlandse kursus wat September begin.  Tot ek kan Nederlands skryf gaan ek maar ´n werk moet soek waar ek nie te veel hoef te skryf nie.  Ouch!