Vanoggend staan ek in die stort en gesels met myself. Ek dink aan die opdraande stryd vir my om werk te kry. Ek dink aan hoe ek dit moet bewoord as ek in ´n onderhoud sit en gevra word hoekom ek vir solank nie gewerk het nie. Hoe bewoord ek dit dat ek op hierdie ouderdom ´n werk soek wat niks met my ervaring of selfs belangstellings te make het nie. En so gaan die gedagtes op hulle normale gang voort. Tot ek besef….
Wat doen ek? Wat sê ek aan myself? Ek het die gedagtes weer laat terugspeel en ek was geskok. Negatief. Dis alles negatief! My gedagtes van dae, weke is grotendeels negatief. En hoe voel ek op hierdie oomblik? Magteloos, byna moedeloos. En dit omdat ek na nonsens luister. Nonsens wat ek aan myself vertel! Ek is my eie ergste kritikus. En ek glo myself omdat ek dit oor en oor vir myself vertel.
Hoeveel mense loop nie daar buite rond met dieselfde probleem nie? Jy weet, daardie knaende gesprekke wat jy met jouself voer? Jy kan dit nie doen nie…. Jy het nie die kennis nie…. Jy het nie die ervaring nie…. Kyk wat het so-en-so al bereik… Kyk watter fout het jy daar gemaak…. en daar…. en daar…. Kyk hoe het jy daai situasie hanteer…. Kom ons vergeet heeltemal van daai keer….
Negatiewe gedagtes en negatiewe emosies wat oor en oor deur jou gedagtes maal. En dis nie nuwes nie. Dit word net elke keer ge-recycle. Vir dae kan ´n mens so rondloop, vasgevang in jou innerlike dialoog. Tot jy jouself glo. Tot jy by moedeloos verby is.
En hoeveel mense besef dat hulle hul eie grootste vyande is? Dat hulle daardie negatiewe fluistering moet stop sit? Hoeveel mense weet dat as hulle onmiddelik iets positiefs dink wanneer hulle besef hulle dink negatief, dit later ´n gewoonte word. ´n Positiewe gewoonte. Ek dink dat ek wel kan…. Ek kan dit doen…. en dit …. Ek hou van …. My vriende dink ek is goed met …. Ek het … al reggekry! Positiewe gedagtes om die negatiewes te vervang. Om nuwe lewenskrag te gee. Nuwe moed. Nuwe hoop.
Daar is hoeveel “life-coaches” wat ons vertel dat ons ons negatiewe gedagtes moet hokslaan en vervang met positiewe gedagtes. En dit oor en oor te herhaal tot ons dit glo. Dis hoe ons die negatiewe dinge van onsself glo…. ons het lank genoeg daarna geluister dat ons dit vir die waarheid aanvaar… Daarom kan dit werk vir die positiewe gedagtes ook. Positiewe gedagtes en positiewe emosies. Daar is gesondheidsinstrukteurs wat dit ook verkondig. Vertel jouself jy hou van gesond wees, en fiks wees. Dat jy hou van aktief wees, van gesonde kos. Vertel dit oor en oor aan jouself. Tot jy dit glo.
Makliker gesê as gedaan. Dit neem tyd en vasbyt om gewoontes te verander. Vra iemand wat probeer ophou naels kou. Maar die wonderlike daarvan is… vryheid. Verandering. Verbetering.
Maar weet julle wat die wonderlikste van hierdie lewenswaarheid is? Filosowe het dit nie oorspronklik bedink nie. Ook nie life-coaches nie. Ook nie al die self-help psigoloë nie. Hierdie waarheid kom van Christus af, van God af.
“… ek maak my los van wat agter my is en strek my uit na wat voor is.” Klink dit bekend? Die self-help ouens vertel ons dat ons van die verlede moet vergeet, dis verby. Jy kan nie in die verlede bly leef nie.
“Julle gees en gedagtes moet nuut word.” Klink dit bekend? Die selfhelp ouens sê jy moet nuwe positiewe gedagtes dink.
Klink dit bekend? Paulus het dit gesê. In Filippense 3. Onthou julle wie Paulus was? Saulus wat Christene vervolg het. Wat sou gebeur het as hy aan die verlede bly vasklou het? Hy sou nie ´n kwart van die mense bereik het wat hy het nie. Maak jou los van die verlede, van die negatiewe dinge wat jou vaskettting op een plek.
Klink dit bekend? Dit was weer Paulus. In Efesiërs 3. Oor hoe jy moet breek met die ou negatiewe gedagtes. Jou gedagtes word nuut, wanneer jy nuwe gedagtes dink. Dit gaan nie vanself kom nie. Daardie negatiewe gedagtes het jy daar geplant, jy kan positiewe gedagtes plant.
Jou praat met jouself het baie meer krag as wat jy dink. En dis nie net New Age sielkunde nie. Dis ´n lewenswaarheid. Dit geld vir almal.