Vanoggend het ek by personeelagentskappe my CV gaan ingee. Of probeer. Sommiges is heel behulpsaam en ander minder behulpsaam. Sodra hulle hoor dat ek ´n buitelander is kan ek sien hoe hulle begin kriewel.
Toegegee, my Nederlands is ver van perfek af, en ek verstaan geen enkele woord Frans nie. Of Duits nie. Of Portugees nie. Nee, selfs nie Arabies, Turks of Marokkaans nie. Jammer. En ook nie Russies nie, nee. Ek praat wel Engels, maar die helfte van die Belge kan Engels klappen, soos hulle op Vlaams sê.
Hmmmm. België, die land met 3 amptelike tale waarvan weinig in die alledaagse omgang gepraat word. Neem bv. die noorde van die land. Hulle praat amptelik Nederlands. Maar glo my, die mense op straat praat alles behalwe dit. O nee, hulle praat Vlaams. En elke groot dorp het sy eie dialek! (Ter verwysing – België is rofweg so groot soos Lesotho, het 10 provinsies, 3 streke, 3 gemeenskappe, 6 parlemente, 6 regerings en ´n koning. Verskillende dialekte maak dus ook sin….. )
Hier in Antwerpen praat hulle Antwaarps, ´n plaaslike dialek. En mens moet mooi luister om dit te verstaan. Die uitspraak klink baie Kaaps, met ´n skoot Nederlands wat goed deurspek is met hul eie geursel. Liefie en sy familie kom van Londerzeel, so 30 minute se ry van hier, en hulle praat die dialek van daar. Met die vreemdste uitspraak vir die “ui” in buite. Dit klink soos mense wat nie weet dat die “ui” ´n saamgestelde klinker is nie, en elke letter probeer uitspreek met so ´n vreeslike oorronding wat die Pretorianers na Kapenaars laat klink. En drie klink eerder soos die Engelse dry. Toe skoonma my die eerste keer vertel dat sy ´n valling het, het ek net beleefd geglimlag terwyl my brein allerhande moontlike betekennise van die woord probeer het. Sy het my toe ingelig dat dit verkoue beteken. Ah! Skoonma was siek. Sjoe. Ek het al gesien hoe lê sy met ´n gebreekte been of iets.
En dan praat ek nog nie eens van Nederlands nie. Die Belge vind Nederlands ook moeilik. Byna alle meervoude kry ´n -en agteraan. Let op ek sê byna – ek het al my vingers verbrand met daai reël. Vingers is ´n uitsondering…. En dan kry sommige werkwoorde ´n -t of -dt agteraan. En kan kan kan bly of kunnen word. Zij beteken sy óf hulle. En onthou julle die lyste Engelse werkwoordvervoegings wat jy uit jou kop moes leer op skool? Werkwoorde soos go – went – went? Helaas, Nederlands het dit ook : gaan – ging – gegaan, of slaan – sloeg – geslagen. En daar is natuurlik uitsonderings op alles. En man, is Nederlands lief vir die -ch- . Soos in schat of acht.
Laasweek het ek gaan toets skryf by die organisasie wat buitelanders se Nederlands-vaardighede toets en les gee ens. Dis nou lees, skryf, praat, alles. Met die verstaan het ek geen probleme mee gehad nie, soos meeste Afrikaanssprekendes. Maar dis daai skryf. Toe die toets nagesien word het die meisie so ´n enigmatiese glimlaggie om haar lippe gehad. En glo my, ek het al die tipiese Afrikaanse foute gemaak. Geen -t of -dt. Die -ch- was -k- of -g-, en byna was die ik ek. Soveel soos ons die Kapenaars altyd gespot het oor hulle ikke, spot my man my nou oor my ekke. Ek is nou ingeskryf vir ´n baie intensiewe Nederlandse kursus wat September begin. Tot ek kan Nederlands skryf gaan ek maar ´n werk moet soek waar ek nie te veel hoef te skryf nie. Ouch!
Junie 11, 2009 at 10:20 vm
Eish!
Sterkte dame!
Junie 12, 2009 at 3:49 vm
..wishing you the very best…we did not have our coffee!
Junie 12, 2009 at 9:48 vm
It seems that you moved before I did.
Junie 13, 2009 at 8:43 vm
Interessante skrywe! Ek speel skaak op chess.com teen ‘n Nederlander en gesels so bietjie tussen-in. Ek wil graag vir hom wys dis nie nodig dat ons Engels gebruik nie, maar is bang as ek gewoonweg in Afrikaans skryf hy moeiliker sal verstaan, dus probeer ek in “Nederlands” skryf. Maar telkens as ek klaar enter gedruk het dan sien ek, oeps…
Hoop jy kry darem werk!
Junie 14, 2009 at 11:40 vm
Dankie, man, Kop. Weet jy, toe ek en my man net ontmoet het, het ons begin kuier in Engels, en toe oorgeslaan na Afrikaans en Nederlands binne ´n maand – dit geskryf en gepraat. Die internet is so wonderlik! (Ek was toe in Suid-Korea.) So, ek is seker die Nederlander sal jou verstaan as jy gewoonweg Afrikaans skryf en hy Nederlands. As ons mekaar genoeg kon verstaan om ´n verhouding te bou oor duisende kilometers, sal julle mekaar beslis ook verstaan! Aan die ander kant, is dit dalk sy geleentheid om Engels te oefen? Dis wat sommige van my man se vriende met my doen….
Junie 14, 2009 at 11:43 vm
Lekker gelees! Ek speel ook op daardie site skaak en speel huidiglik teen ‘n Nederlander en ek het hom van die begin af gese gewoonlik skryf ek in Afrikaans en hulle in Nederlands..ek vra hulle omdat ek meer van die taal wil leer… en ja, ons doen dit en ons verstaan mekaar. – my oupa is oorspronklik van Holland, daarom is ek nog meer geinteresseerd in die taal.