Ek haat vreemde lande! skree ek vanoggend uit die diepte van my siel. Veral die een waar ek op die oomblik in bly. En voor ek allerhande “haai nee, dink positief” opmerkinge kry, bly stil en gee my die geleentheid om van my irrationele haatgevoelens ontslae te raak.
As mens siek is, wil jy na jou vertroude dokter toe en medisyne kry en in die bed klim en beter word. Basta. Geen gesukkel en geskarrel om ´n dokter te vind en dan nog te kommer oor of hy jou reg verstaan nie. Hy (of sy) het jou leêr, sien jou allergieë, ken al jou skete en kwale. Of my wonderlike fisio. “Wat het jy nou weer aangevang? Kom laat ek gou daai rug van jou regkry dat jy kan aan gaan met jou lewe.” Wonderlike mense wat ek nie in my tas kon pak nie.
Maar kom jy iets oor in ´n vreemde land waar jy geen ondersteuningstruktuur het nie…. gaan jy dieselfde voel. Het jy ´n ou kwaal wat soms kop uitsteek – sterkte as jy dit probeer verduidelik. “Nee, dokter. Jy is verkeerd. Dis die SI gewrig, nie die ruggraat of ´n disc wat iewers uitpeul nie.” “Nee, dokter, ek dink dit is griep. Griep maak mens ook duiselig, ´n drup gaan die probleem nie oplos nie!” Voor ek besluit het om die wye wêreld te gaan bekyk, het ek nooit soveel kwaksalwers teëgekom nie. Ek het gehoor van hulle in SA, maar dit was net rumours.
Wat ´n seën dat ek in SA elke keer vinnig en reg gediagnoseer was. En vir al die Suid-Afrikaners wat kla….. ek bedoel nou almal met privaatmediese fondse – tel julle seëninge! Vrek, julle is bevoorregd. Daar kan jy ´n spesialis sien sonder ´n verwysing. Het jy ´n fisio nodig? Geen probleem – bel net vir ´n afspraak. Moet jy ´n inspuiting kry? Bly lê, dokter gaan haal gou die spuitstof en alles in die vertrek hierlangsaan. Oppad by die deur uit, kry sommer gou jou medisyne by ons aptekie. Staan jy op met ´n dikkop en snotneus en ´n hoes wat dreig om jou longe op die grond te laat val, ry eenvoudig dokter toe en wag ´n uur of so totdat sy sekretaresse jou kan indruk tussen afsprake.
Hier het die dokters net ´n uur of so spreektyd in hulle spreekkamers. Anders moet jy bel vir ´n huisbesoek. Duurder en wie weet wanneer die dokter jou kan kom sien? Persoonlik hou ek van die spreekkamer besoek-reëling. Het jy ´n inspuiting nodig? Oe, wag. Die dokter skryf gou ´n voorskrif uit waarmee jy na die apteek moet gaan. O, en dan moet jy weer terug na die dokter vir die inpsuiting – en nog ´n konsultasie fooi. En dis nou maar jou bad-luck as jy die laaste pasiënt in die dokter se spreekuur was, of die apteek mis omdat dit reeds toe is. Dan wag jy maar nog ´n dag vir daai inspuiting. Fisios se konsultasie fooie is nogal duur as jy sonder ´n verwysing gaan. Dis dan ´n privaat besoek en die medies betaal aansienlik minder van dit. Vir ouens soos ek met ´n SI gewrig wat effens onstabiel is, beteken dit natuurlik dat ek elke liewe keer eers dokter toe moet gaan vir ´n verwysing. Ekstra konsultasie fooie. Dan wil ek moedeloos kerm dat ek net 2 of 3 behandelinge nodig het om die gewrig terug in posisie te kry en te keer dat die spiere spasties word…. Maar nee, dis 9 of niks. En ´n ekstra doktersbesoek. Waar is daai fisio tog wat ek eenmaal op vakansie moes gaan besoek met die spasma? Sy het begryp dat ek goed besef wat die probleem was en my (!) gevra wat gewoonlik werk. Twee sessies van akupunktuur naalde later was die spasma weg en die gewrig in posisie en ek kon verder vakansie hou.
As mens siek is, of pyn het, wil jy nie gekonfronteer word met kultuurverskille en ander maniere van doen nie. Wanneer ek pynvry en gesond is, besef ek dat daar redes moet wees vir hoe dinge gedoen word. In ´n sosialistiese staat moet almal vir almal sorg en moet elkeen sy vergoeding kry – spread the wealth! Maar deksels, die arme pasiënt word nie vinniger beter nie. Inteendeel. Behandeling neem soveel langer.
En as jy ´n buitelander is wat aan ”anders” gewoond is…. byt op jou tande en probeer glimlag en om nie soos ´n ”spoiled ex-pat” te klink nie.
Ek weet as die pyn-newels en frustrasie weg is, en ek weer normaal kan sit en werk, sal ek weer nugter daaroor kan dink. Maar tot dan, gun my my irrasionele uitbarsting en selfbejammering. Soms is ek net nie lus vir avontuur nie.
