Uncategorized


Ek haat vreemde lande! skree ek vanoggend uit die diepte van my siel.  Veral die een waar ek op die oomblik in bly.  En voor ek allerhande  “haai nee, dink positief” opmerkinge kry, bly stil en gee my die geleentheid om van my irrationele haatgevoelens ontslae te raak.

As mens siek is, wil jy na jou vertroude dokter toe en medisyne kry en in die bed klim en beter word.  Basta.  Geen gesukkel en geskarrel om ´n dokter te vind en dan nog te kommer oor of hy jou reg verstaan nie.  Hy (of sy) het jou leêr, sien jou allergieë, ken al jou skete en kwale.   Of my wonderlike fisio.  “Wat het jy nou weer aangevang? Kom laat ek gou daai rug van jou regkry dat jy kan aan gaan met jou lewe.”   Wonderlike mense wat ek nie in my tas kon pak nie.

Maar kom jy iets oor in ´n vreemde land waar jy geen ondersteuningstruktuur het nie…. gaan jy dieselfde voel.  Het jy ´n ou kwaal wat soms kop uitsteek – sterkte as jy dit probeer verduidelik.  “Nee, dokter.  Jy is verkeerd.  Dis die SI gewrig, nie die ruggraat of ´n disc wat iewers uitpeul nie.”  “Nee, dokter, ek dink dit is griep.  Griep maak mens ook duiselig, ´n drup gaan die probleem nie oplos nie!”  Voor ek besluit het om die wye wêreld te gaan bekyk, het ek  nooit soveel kwaksalwers teëgekom nie.  Ek het gehoor van hulle in SA, maar dit was net rumours. 

Wat ´n seën dat ek in SA elke keer vinnig en reg gediagnoseer was.  En vir al die Suid-Afrikaners wat kla….. ek bedoel nou almal met privaatmediese fondse – tel julle seëninge!  Vrek, julle is bevoorregd.  Daar kan jy ´n spesialis sien sonder ´n verwysing.  Het jy ´n fisio nodig?  Geen probleem – bel net vir ´n afspraak.  Moet jy ´n inspuiting kry?  Bly lê, dokter gaan haal gou die spuitstof en alles in die vertrek hierlangsaan.  Oppad by die deur uit, kry sommer gou jou medisyne by ons aptekie.  Staan jy op met ´n dikkop en snotneus en ´n hoes wat dreig om jou longe op die grond te laat val, ry eenvoudig dokter toe en wag ´n uur of so totdat sy sekretaresse jou kan indruk tussen afsprake. 

Hier het die dokters net ´n uur of so spreektyd in hulle spreekkamers.  Anders moet jy bel vir ´n huisbesoek.  Duurder en wie weet wanneer die dokter jou kan kom sien?  Persoonlik hou ek van die spreekkamer besoek-reëling.  Het jy ´n inspuiting nodig?  Oe, wag.  Die dokter skryf gou ´n voorskrif uit waarmee jy na die apteek moet gaan.  O, en dan moet jy weer terug na die dokter vir die inpsuiting – en nog ´n konsultasie fooi.  En dis nou maar jou bad-luck as jy die laaste pasiënt in die dokter se spreekuur was, of die apteek mis omdat dit reeds toe is.  Dan wag jy maar nog ´n dag vir daai inspuiting.  Fisios se konsultasie fooie is nogal duur as jy sonder ´n verwysing gaan.  Dis dan ´n privaat besoek en die medies betaal aansienlik minder van dit.  Vir ouens soos ek met ´n SI gewrig wat effens onstabiel is, beteken dit natuurlik dat ek elke liewe keer eers dokter toe moet gaan vir ´n verwysing.  Ekstra konsultasie fooie.  Dan wil ek moedeloos kerm dat ek net 2 of 3 behandelinge nodig het om die gewrig terug in posisie te kry en te keer dat die spiere spasties word….  Maar nee, dis 9 of niks.  En ´n ekstra doktersbesoek.  Waar is daai fisio tog wat ek eenmaal op vakansie moes gaan besoek met die spasma?  Sy het begryp dat ek goed besef wat die probleem was en my (!) gevra wat gewoonlik werk.  Twee sessies van akupunktuur naalde later was die spasma weg en die gewrig in posisie en ek kon verder vakansie hou. 

As mens siek is, of pyn het, wil jy nie gekonfronteer word met kultuurverskille en ander maniere van doen nie.   Wanneer ek pynvry en gesond is, besef ek dat daar redes moet wees vir hoe dinge gedoen word.  In ´n sosialistiese staat moet almal vir almal sorg en moet elkeen sy vergoeding kry – spread the wealth!  Maar deksels, die arme pasiënt word nie vinniger beter nie.  Inteendeel.  Behandeling neem soveel langer.

En as jy ´n buitelander is wat aan ”anders” gewoond is…. byt op jou tande en probeer glimlag en om nie soos ´n ”spoiled ex-pat” te klink nie.

Ek weet as die pyn-newels en frustrasie weg is, en ek weer normaal kan sit en werk, sal ek weer nugter daaroor kan dink.  Maar tot dan, gun my my irrasionele uitbarsting en selfbejammering.  Soms is ek net nie lus vir avontuur nie.

O griet, ek was heeltemal te lanklaas hier!  Alles het van taal verander.  Ek sien dis nou Engels en (ek neem aan) Afrikaans deurmekaar, want Nederlands lyk nie so normaal nie.   Ja, ek het nog nie eens Nederlands begin studeer nie, en ek raak klaar deurmekaar met die 2.  Aai tog.

Wel, ek was so stil, want ek het werk gekry.  En hoewel ek nie elke dag werk nie, is dit redelik fisies, so ek het maar gewoonlik herstel op my af dae.  En ons was met vakansie.  En dinge gaan nie beter word nie, want volgende week begin ek studeer.  UITEINDELIK!

Vanoggend staan ek in die stort en gesels met myself.  Ek dink aan die opdraande stryd vir my om werk te kry.  Ek dink aan hoe ek dit moet bewoord as ek in ´n  onderhoud sit en gevra word hoekom ek vir solank nie gewerk het nie.  Hoe bewoord ek dit dat ek op hierdie ouderdom ´n werk soek wat niks met my ervaring of selfs belangstellings te make het nie.  En so gaan die gedagtes op hulle normale gang voort.  Tot ek besef….

Wat doen ek?  Wat sê ek aan myself?  Ek het die gedagtes weer laat terugspeel en ek was geskok.  Negatief.  Dis alles negatief!  My gedagtes van dae, weke is grotendeels negatief.  En hoe voel ek op hierdie oomblik?  Magteloos, byna moedeloos.  En dit omdat ek na nonsens luister.  Nonsens wat ek aan myself vertel!  Ek is my eie ergste kritikus.  En ek glo myself omdat ek dit oor en oor vir myself vertel. 

Hoeveel mense loop nie daar buite rond met dieselfde probleem nie?  Jy weet, daardie knaende gesprekke wat jy met jouself voer?  Jy kan dit nie doen nie…. Jy het nie die kennis nie…. Jy het nie die ervaring nie…. Kyk wat het so-en-so al bereik… Kyk watter fout het jy daar gemaak…. en daar…. en daar…. Kyk hoe het jy daai situasie hanteer…. Kom ons vergeet heeltemal van daai keer….

Negatiewe gedagtes en negatiewe emosies wat oor en oor deur jou gedagtes maal.  En dis nie nuwes nie.  Dit word net elke keer ge-recycle.  Vir dae kan ´n mens so rondloop, vasgevang in jou innerlike dialoog.  Tot jy jouself glo.  Tot jy by moedeloos verby is. 

 En hoeveel mense besef dat hulle hul eie grootste vyande is?  Dat hulle daardie negatiewe fluistering moet stop sit?  Hoeveel mense weet dat as hulle onmiddelik iets positiefs dink wanneer hulle besef hulle dink negatief, dit later ´n gewoonte word.  ´n Positiewe gewoonte.  Ek dink dat ek wel kan…. Ek kan dit doen…. en dit …. Ek hou van …. My vriende dink ek is goed met …. Ek het … al reggekry!  Positiewe gedagtes om die negatiewes te vervang.  Om nuwe lewenskrag te gee.  Nuwe moed.  Nuwe hoop.

Daar is hoeveel “life-coaches” wat ons vertel dat ons ons negatiewe gedagtes moet hokslaan en vervang met positiewe gedagtes.  En dit oor en oor te herhaal tot ons dit glo.  Dis hoe ons die negatiewe dinge van onsself glo…. ons het lank genoeg daarna geluister dat ons dit vir die waarheid aanvaar… Daarom kan dit werk vir die positiewe gedagtes ook.  Positiewe gedagtes en positiewe emosies.  Daar is gesondheidsinstrukteurs wat dit ook verkondig.  Vertel jouself jy hou van gesond wees, en fiks wees.  Dat jy hou van aktief wees, van gesonde kos.  Vertel dit oor en oor aan jouself.  Tot jy dit glo. 

Makliker gesê as gedaan.  Dit neem tyd en vasbyt om gewoontes te verander.  Vra iemand wat probeer ophou naels kou.  Maar die wonderlike daarvan is… vryheid.  Verandering.  Verbetering.

Maar weet julle wat die wonderlikste van hierdie lewenswaarheid is?  Filosowe het dit nie oorspronklik bedink nie.  Ook nie life-coaches nie.  Ook nie al die self-help psigoloë nie.  Hierdie waarheid kom van Christus af, van God af.   

“… ek maak my los van wat agter my is en strek my uit na wat voor is.”  Klink dit bekend?  Die self-help ouens vertel ons dat ons van die verlede moet vergeet, dis verby.  Jy kan nie in die verlede bly leef nie.  

“Julle gees en gedagtes moet nuut word.”  Klink dit bekend?  Die selfhelp ouens sê jy moet nuwe positiewe gedagtes dink.

Klink dit bekend?  Paulus het dit gesê.  In Filippense 3.  Onthou julle wie Paulus was?  Saulus wat Christene vervolg het.  Wat sou gebeur het as hy aan die verlede bly vasklou het?  Hy sou nie ´n kwart van die mense bereik het wat hy het nie.  Maak  jou los van die verlede, van die negatiewe dinge wat jou vaskettting op een plek.

Klink dit bekend?  Dit was weer Paulus.  In Efesiërs 3.  Oor hoe jy moet breek met die ou negatiewe gedagtes.  Jou gedagtes word nuut, wanneer jy nuwe gedagtes dink.  Dit gaan nie vanself kom nie.  Daardie negatiewe gedagtes het jy daar geplant, jy kan positiewe gedagtes plant.

Jou praat met jouself het baie meer krag as wat jy dink.  En dis nie net New Age sielkunde nie.  Dis ´n lewenswaarheid.  Dit geld vir almal.

Gister het ek die moed bymekaar geskraap om my e-pos oop te maak.  En elke berig te lees.  En te antwoord.  En ek sien sommer hoe jy jouself vra hoekom ´n mens moed nodig het vir so ´n alledaagse ding.  Dis dan so maklik.  Jy maak dit oop.  Vluglees.  Ignoreer die van jou baas en antwoord die van jou vriende.  Bevestig die braai vir Saterdag.  Gooi die gemorspos weg.  Stuur die grappie aan vir ander om ook te geniet….

My pos was tot oorlopens toe vol.  Bykans ´n 100.  Maar dit was dan ook pos van ´n paar maande…. van Februarie af al… In al hierdie tyd het ek my e-pos miskien vier maal oopgemaak.  En nooit gekyk na die inhoud nie.  Ek het dit oopgemaak omdat ek moes. 

But why? 

Dit was nie dat ek mense wou ignoreer nie.  Dit is dan die enigste kontak met my bekende wêreld.  Ek wou niemand seermaak in die proses nie, hoewel ek weet dit is waarskynlik wat gebeur het.  “Sy is nou getroud.  Sy bly nou in ´n ander land.  Ek is nou nie meer goed genoeg nie.”  Mense dink snaakse dinge.

Gister toe ek die briefies begin antwoord het was ek byna in trane.  Dit het seergemaak.  Al die opregtheid wat ek so lank geignoreer het.

En in werklikheid het ek vir maande weggekruip.  Het ek my eie emosies probeer spaar.  Dit het so seergemaak om briefies van my vriende te kry.  Die jarelange vriende in Suid Afrika.  Die nuwe-ou vriende in Korea.  Die afstande het soos tonne grond op my gedruk, dieper en dieper in ´n gat in.  Ek was in die sewende hemel van geluk in my nuwe huwelik.  En in ´n diep put van harstseer en verlange.  Dus het my beskermingsmeganisme ingetree – ignoreer alles wat seermaak.  Kruip weg.  Leef in ontkenning.

Maar dit kan ook nooit vir ewig duur nie.  Ek het geweet dat ek wegkruip.  En ek het nou die moed bymekaar geskraap om dit nie langer te ignoreer nie.  

Dit maak nog seer.  Ek kyk nie eens na ons troufotos nie.  Die verlange is nog te groot.  Maar ek wil nie meer wegkruip nie.

“Liefling, bring die tissues.”

Het jy al ooit daai hulpelose gevoel gehad?  Daai een wat jou bene en arms totaal lam laat?  Wat selfs jou veg- of vlugreaksie verlam? 

Ek verwys nou na ‘n reaksie op ‘n brokkie inligting.  En gewoonlik is dit die mees onverwagse inligting wat jou hierdie reaksie besorg.  Iets op die skaal van liggies en elektroniese klokkies wat skielik afgaan en jy eers wonder wat jy gebreek het voordat dit deurdring dat jy eintlik ‘n miljoen Rand ryker is, al het jy net 1 muntstuk in die gleufie gegooi.  Net om dan te besef dis nie jou masjien wat skreeu en raas nie, maar die een waar jy 10 sekondes gelede by weg is.  Die uiteindelike reaksie is ‘n flou laggie.  Want as jy nie lag nie, gaan jy huil.  Of wil jy nou eintlik eers huil voor jy lag?  Niemand weet ooit presies watter reaksie hulle moet hê nie. 

Moet jy huil oor jou absolute magteloosheid in die saak?  Of moet jy lag vir die totale absurdheid van die situasie?

Wel, vandag het ek daardie reaksie gehad.  En ek weet nou nog nie of ek nou eintlik wil lag of huil nie.

Ek sit in België en wag op ‘n stukkie papier wat dit vir my gaan moontlik maak om permanente verblyf hier te kry,  te mag werk soek, op my man se medies te wees en ag sommer ‘n honderd ander dingetjies moontlik te maak.  Die stukkie papier waarna ek verwys is ‘n volledige huweliksertifikaat, en dit moet uit Suid Afrika kom. 

Aangesien ons op die derde dag van hierdie jaar getroud is, in SA, was die redenasie dat die betrokke staatsdepartement teen hierdie tyd al die geposte dokumente moes gekry het om die huwelik te registreer.  Dus om die volledige sertifikaat aan te vra sou maklik en glad verloop.  Gewapen met die nodige dokumente en hope geduld was my ouers vroeg vanoggend daar.  Na ‘n skaflike uur se gewag het hulle by ‘n klerk uitgekom en toe hulle die inligting deurgee, moes hulle hoor dat hulle dogter nog ongetroud is.  Die huwelik is nog nie geregistreer nie.

Maar dit was nie die brokkie inligting verantwoordelik vir die trane en gelag nie…..

Na ‘n paar oproepe na die predikant en nog ‘n geselsie met die persoon by inligting, het my ouers eindelik ‘n meer senior beampte in die hande gekry.  As die predikant dit wel gepos het, moet die dokumente iewers op iemand se tafel wees, dan nie?  Die beampte het baie simpatiek geluister na die verhaal en al die dokumente by my ouers geneem om afskrifte te maak om op die saak in te gaan.  Hy verstaan ook dat die stukkie papier vreeslik belangrik is vir my verblyf hier in die verre vreemde.  En met die dat hy die afskrifte maak moes iets in sy verstand geklik het:  “Ons het nog nie gaan pos uithaal hierdie jaar nie.”

Vandag, met hierdie jaar al 28 dae oud, het ‘n groot en belangrike staatsdepartement in ‘n groot stad nog nie gaan pos uithaal sedert hierdie jaar begin het nie.

Ek kan my net probeer indink wat my ouers se reaksie was.  Blykbaar was my pa, die vurige boer wat hy is, stom.

Ek moet erken, van die al die verskonings wat ons al van staatsdepartemente gehoor het, is dit ‘n nuwe een.

Dus lag ons maar.  Wat anders kan mens doen?  En kry weereens al die dokumente (of afskrifte van dokumente) byeen sodat die huwelik hopelik gou geregistreer kan word.

‘n Stem uit die stilte!

Dankie, Wipneus en Jenny, dat julle my onthou en herinner…  Ek is nou weer by die huis en verbreek gou die stilte.

Mense is altyd propvol voornemens hierdie tyd van die jaar.  Wel, ek het maar een.  En dis een van lewenslange duur.  Nee, dis nie gewig verloor nie, of enige van die ander wat almal al op een of ander stadium op hul lysie gehad het nie.

Dis om my man en sy seun lief te hê.   En nie omdat ons weer probeer werk aan ons huwelik nie…..  Sien, ons is op 3 Januarie getroud.  En die beloftes wat ek op díe dag voor God en al die getuies gemaak het, is ernstiger as enige “nuwejaars voorneme” wat mens gewoonlik bedink.

En die nuwe dinge?  ‘n Man, ‘n seun, ‘n nuwe land, ‘n nuwe werk, nuwe vriende….  Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek dinge half doen nie.  Soms wens ek egter dat ek minder avontuurlustig was en dinge ‘n bietjie meer soos ‘n normale mens wou doen;  net so ‘n bietjie minder uitdagings op ‘n slag aanpak.  Maar dan was dit ook nie meer ek nie.  Of so sê die wat my al ‘n rukkie ken.

Maar een iets bly konstant.  En sal altyd dieselfde in my lewe bly – God.  Jaar in en jaar uit.  In watter situasie of land ek myself ookal bevind.  God se teenwoordigheid in my lewe en my afhanklikheid van Hom is die enigste konstante wat ek nodig het.  En solank ek aan God vasklou sal ek my beloftes van die 3de kan nakom.

As ‘n Suid Afrikaner oor die verre blou water, lees ek die nuus en skud my kop en wonder en worry.  Gaan daar ‘n land vir my oorbly om na toe terug te gaan? 

Anders as so baie ander wat in self opgelegde ballingskap sit, het ek my vlerke gesprei om die wêreld te verken.  In die vaste hoop en vertroue dat ek weer sou terugkeer na die sonskyn land onder aan die suidpunt van Afrika.  ‘n Mooie land met soveel potensiaal.  En ten spyte van die moord en doodslag wat mens op die nuus kry, glo en hoop ek dat dit nie al is wat gebeur in daardie vaderland van my nie.  En verdedig ek my land wanneer ander dit afbreek met kritiek en uit onkunde.  (En wys hulle daarop dat hulle lande nie noodwendig beter as myne is nie.)   

En nou…… die politiek van die dag laat my sprakeloos.  Ek het net eenvoudig te min politieke kennis om hierdie nuwe verwikkelinge deur te volg tot die logiese einde toe.  Miskien is dit omdat mag van minder belang is vir my dat ek nie die politieke “leiers” se beweegredes verstaan nie.  Hulle motiewe is totaal duister vir my.  Omdat ek glo dat almal inherent “goeie” mense is?  En ander mense se belange op die hart dra?  En verantwoordelikheid aanvaar vir hulle dade?  Miskien. 

Spekuleer gaan nie help nie.  Worry gaan nie help nie.  Veral as dit die tipe worry is wat mens lamlê en keer om enigiets daadwerkliks te doen.  In my baie beperkte ervaring is daar egter een ding wat help.  Bid.  Ek bid vir my familie.  Vir my vriende.  Vir my land.  Vir die leierskap.  Dis tog ‘n goddelike opdrag: om te bid vir die leiers van jou land sodat die kinders van God Hom in vrede en rustigheid kan dien.     

Maar ek skud my kop en wonder oor die duister motiewe van ander.  Veral as hulle hulself as politieke leiers uitgee wat die welstand van hul land se mense op die hart dra.

Vandag het ek tot die slotsom gekom dat dinge nie meer so kan aangaan nie.   My treë weifel al om die put se rant.  Sommige dae kan ek die put skaars sien.  Ander dae voel ek hoe trek die donker duisternis my na benede.   Wanneer ek mooi kyk, kan ek die sirkelende paadjies sien wat my voete om die put uitgetrap het.

Nee!  Genoeg is genoeg.  Dis nie wie ek is nie!  Wat het geword van daardie borrelende mens in my?  Die een wat altyd gereed was om te lag of te glimlag?  Vir wie die son altyd geskyn het?  Al was dit ook bewolk?

Ek is veronderstel om histeries gelukkig te wees.  Ek is verloof aan ‘n wonderlike man wat van God afgebid is.   “Hoe kan dat dan nou?”  soos hy sal vra met sy Vlaamse aksent.   Ons is gelukkig saam.  Ons vul mekaar aan.  Ons het wonderlike drome vir ons toekoms.  En die som van ons is meer as die dele wat daardie som maak.  Ons trou sodra ek terug is by hom.  En dis juis daar waar my hart ineenkrimp van verlange.  Wanneer ek terug is…..

Dis  7 lange weke vandat ek hom moes groet in sy land en moes terugkeer na ’n land waar ek altyd  ’n vreemdeling is.  Ek het nog ‘n kontrak gehad om klaar te maak.  Ek kon dit kwalik verbreek!  En nou is daar nog 9 weke oor van die kontrak.  En dit voel soos 9 eeue!  Ek leef elke dag net vir daardie 2 uurtjies wat ons via die internet kan kuier.  En wanneer my liggaam aandring op slaap groet ek met ‘n swaar gemoed.  Dit voel of daar ‘n droogte in my siel kom lê het.  En dis hier waar ek die streep trek.  Vandag.  Op hierdie mistige dag wat al die soveelste week merk sedert ek die son die laaste keer sien skyn het.  Letterlik en figuurlik.

Vanaf vandag gaan ek elke dag aan iets moois of positiefs dink.  Om hierdie donkerte in my te verlig.

Vrydagmiddag het ‘n 5 jarige studentjie van my vir my in baie mooi duidelike Engels gesê:  “Teacher!  I love you.”  Met soveel gevoel.  Haar gesiggie was baie ernstig en sy het my vas in die oë gekyk asof sy wou seker maak dat ek haar hoor en verstaan.  Ek was besig om die goedjies bymekaar te probeer kry vir die roetine liedjie voor die klas begin.  Ek wens ek kon haar daar en dan styf teen my vasdruk. 

Ek noem haar my roomysdogtertjie.  Omdat haar ma haar in die winter in die dikste roomys-pienk jassie geprop het wat sy in die hande kon kry.  Van haar skoentjies tot die kroontjie van haar koppie waar haar donker haartjies altyd in ‘n bokstertjie vasgemaak is, was sy gewoonlik in roomys-pienk aangetrek.  En sy het diep in my hart gekruip op een dag wat ek ook bietjie blou was.  Sy het my hand geneem en daarop aangedring om saam met my die 2 stelle trappe af te klouter tot op die grondvloer.  Ouma mag nie naby haar gekom het nie!  Die geluidjies wat sy gemaak het en haar gesiggie wat eenvoudig gestraal het van tevredenheid en geluk het verseker dat sy sommer diep in my hart gekruip het daardie dag.  

My roomys-dogtertjie is vandag my mooi gedagte.

Salig onbewus van die groot tragedie wat 11 kilometer onder my aan die ontvou was, het ek Maandagnag oor die Asiese vasteland gevlieg.  Ek het probeer om nie te dink nie, my gedagtes afgesluit, my oë vasgenael op die klein skermpie voor my.  Om my was dit doodstil en donker.  Almal aan die slaap.  Hoeveel mense het geweet van wat onder ons aan die gang was?

Ek was heeltemal te besig om te groet om na enigiets op te let.  Geen televisie, radio of internet nie.  Vasgevang in my eie wêreld van opgewondenheid en hartseer en verlange en geluk.  Maandag was ons 3 dae verloof.  En ek moes groet om die laaste paar maande van my kontrak te kom klaarmaak.  Tien duisend kilometer van my geliefde af.  Byna so ver soos die Weste van die Ooste verwyder is. 

Die volgende dag het in ‘n waas verbygegaan.  Donderdag het ek byna mens gevoel en my studente uitgevra oor wat nuus was.  En hulle het my vertel.  Van ‘n groot aardbewing wat Sjina geruk het.  ‘n 7.9 Magnitude aardbewing wat duisende mense gedood het, ‘n stad en al die klein dorpies rondom gelykgemaak het met die aarde. 

Vanaand het ek die moed bymekaar geskraap om na foto’s op die internet te kyk.  En my hart het gebreek.  Die aardbewing het niks en niemand ontsien nie.  Huise, woonstelblokke, skole, kleuterskole….  Families is met wrede finaliteit uitmekaar geruk.  Hoeveel van die mense wat ontsnap het en na vermiste geliefdes soek gaan ooit langs ‘n graf kan treur? 

Terwyl ek opgewonde uitsien na my lewe aan die sy van my toekomstige man, huil ander vrouens hartverskeurend omdat hulle skielik wreed alleen gelaat is.  In die twee weke wat ek in die wolke geleef het met my geliefde aan my sy, is ander mense se lewens verwoes. 

Tussen die trane deur besef ek opnuut hoe vlietend ons lewe op hierdie onstabiele aarde is.  Ons maak altyd planne en leef asof more so seker is soos wat die son opkom.  Maar hoe seker kan ons regtig wees dat ons wel die son sal sien more? 

Op 2 Mei het die aarde gedreun en ontplof.  Die Chiaten vulkaan in die suide van Chile het warm as, gasse en lawa kilometers die lug ingegooi.   Na duisende jare se slaap, het dit ontwaak en die mense in die omgewing genoodsaak om te vlug.  As daardie dodelike wolk wat bo die dorp uittoring inmekaarsak sal dit die dorp versmoor.  Die mense moes hul huise agterlaat.  En op 12 Mei is hoeveel huise weggespoel na dit begin reën het. 

Op 2 en 3 Mei het die hemele geopen en alles teen die aarde geslinger wat dit kon.  ‘n Tropiese sikloon (of tifoon soos dit ook genoem word in Asië) het die Irrawaddy delta in Myanmar (die ou Burma) getref en alles platgevee wat in die pad was.   Die geskatte dodesyfer is oor die honderdduisend mense.  Wat die tragedie vererger is die junta regering se weiering om buitelandse hulp te aanvaar.  Baie meer mense gaan sterf as gevolg van siektes omdat mense nie toegang het tot skoon water nie.  En die delta is Myanmar se rysbak.   

Op 12 Mei het die aarde geruk en gebewe en alles uitmekaar geskeur.  Die ergste aardbewing in 30 jaar het sentrale Sjina getref en duisende mense het gesterf.  Mans.  Vrouens.  Kinders.  Jonk en oud moes buig voor die geweld.  ‘n Hele stad is platgevee.  Mensgemaakte strukture lê soos gebreekte vuurhoutjies gesaai.  Hoevele dorpies in die berge is afgesny van die buitewêreld af sodat mense te voet moet vlug.  Maar dit was nie die einde nie.  Die rivier is opgedam deur grondverskuiwings en dit het begin reën.  Die rivier kan dalk klaarmaak wat die aardbewing begin het.

 

Maar die fotos vertel nie net van dood en trane van verdriet nie.  Dit vertel ook van trane van verligting en blydskap.  ‘n Kind word vanuit die rommelwerf wat sy skool was gered.  4 Dae na die aardbewing.  ‘n Hondjie eet versigtig ‘n stukkie brood uit die hand van die soldaat wat hom gered het.  ‘n Babatjie gebore ‘n dag na die skudding.  ’n Duitse toeris word gered na hy 114 ure toegeval was.

Hoe seker kan ons wees van die son more? 

Ons kan net van een ding seker wees.  En dit is dat ons almal doodgaan.  Sommige se tyd is nou.  Of more.  Of volgende jaar.  Of oor 20 jaar. 

Dus oorleef die Chileane op die toelae wat hulle regering aan hulle uitbetaal tot hulle kan huistoe gaan en vergeet van die wolk.  Die mense in Myanmar sal miskien hulp ontvang noudat die eerste buitelandse spanne toegelaat word om te help.  Die Sjinese sal terugkeer en hulle stad en dorpe herbou en weer van vooraf begin.

En ek sal aangaan met droom oor my nuwe lewe en planne maak saam met my verloofde vir ons toekoms.

Die onsekerheid hang oor ons almal.  Maar ons het lewens om te leef.  En totdat dit my tyd is – of dit nou more of oor 30 jaar is – gaan ek droom en liefhê en leef.

Hoekom nou juis 8 dinge?  Hoekom nie 7 nie?  Of 3?  Wat laat mense sekere getalle kies en nie ander nie?  Maar wag, ek dwaal…..   Dankie vir die “iets om te doen”,  Jen!    

8 Passies in my lewe:

1 My God

2 My kêrel

3 My familie

4 Boeke

5 Nuwe dinge ontdek

6 Musiek

7 Sjokolade (van my kêrel se land af, natuurlik – België…)

8 Boeke (oeps, het daai een al genoem, maar ek is passievol daaroor!)

 

8 Dinge wat ek wil doen voor ek doodgaan

(daar het ‘n hele klomp goed op die lysie bygekom sedert 3 maande gelede…)

1 In België leef en werk

2 Die Inka roete loop tot bo by Macchu Picchu

3 My vriende en familie vir my laat kom kuier in die vreemde!

4 In Egipte gaan rondloop 

5 Mont Blanc in die Franse Alpe gaan aandurf

6 ‘n Boek publiseer

7 ‘n Opgrawing in die Ou Wêreld meemaak

8 In die Namib woestyn deurnag op ‘n maanlose nag

 

8 Dinge wat ek gereeld sê

1 O bugger….

2 Niks!

3 Grote griet!

4 I forgot the word!

5 Bliksem

6 My donner

7 Hello hello hello!

8 Do you understand? Arra-yo?

 

8 Boeke wat ek onlangs gelees het (of nog mee besig is)

1 Vanya, Myrna Grant

2 The Map that changed the World - William Smith and the Birth of Modern Geology, Simon Winchester 

3 The Black Unicorn, Terry Brooks

4 People of the Book – the Forgotten History of Islam and the West, Zachary Karabell

5 Monstrous Regiment, Terry Pratchett

6 Going Postal, Terry Pratchett

7 The Chronicles of Narnia – The Voyage of the Dawn Treader, C.S. Lewis

8 Die Bybel

 

8 Liedjies waarna ek oor en oor kan luister

1 Zij – Marco Borsato

2 Storybook story – Mark Knopfler

3 Driven by you – Queen (enige iets van Queen)

4 U2 – enigiets

5 Keeping the dream alive – Freiheit

6 In die hemel is die Heer – Louis Brittz

7 Lust for life – Iggy Pop

8 99 Red Balloons – Goldfinger

 

8 Flieks wat ek al baie gesien het, en weer sal kyk, en weer sal kyk, en weer…

1 Lord of the Rings (al 3)

2 Star Wars (al 6!)

3 Love Actually

4 Ice Age

5 Starship Troopers

6 Space Odyssey 2001 (en die ander ene ook)

7 Alladin

8 Deksels, daar is so baie!

 

Mense wat dit moet doen:

1 Uhmmm… almal wat wil