‘n Stem uit die stilte!

Dankie, Wipneus en Jenny, dat julle my onthou en herinner…  Ek is nou weer by die huis en verbreek gou die stilte.

Mense is altyd propvol voornemens hierdie tyd van die jaar.  Wel, ek het maar een.  En dis een van lewenslange duur.  Nee, dis nie gewig verloor nie, of enige van die ander wat almal al op een of ander stadium op hul lysie gehad het nie.

Dis om my man en sy seun lief te hê.   En nie omdat ons weer probeer werk aan ons huwelik nie…..  Sien, ons is op 3 Januarie getroud.  En die beloftes wat ek op díe dag voor God en al die getuies gemaak het, is ernstiger as enige “nuwejaars voorneme” wat mens gewoonlik bedink.

En die nuwe dinge?  ‘n Man, ‘n seun, ‘n nuwe land, ‘n nuwe werk, nuwe vriende….  Niemand kan my daarvan beskuldig dat ek dinge half doen nie.  Soms wens ek egter dat ek minder avontuurlustig was en dinge ‘n bietjie meer soos ‘n normale mens wou doen;  net so ‘n bietjie minder uitdagings op ‘n slag aanpak.  Maar dan was dit ook nie meer ek nie.  Of so sê die wat my al ‘n rukkie ken.

Maar een iets bly konstant.  En sal altyd dieselfde in my lewe bly – God.  Jaar in en jaar uit.  In watter situasie of land ek myself ookal bevind.  God se teenwoordigheid in my lewe en my afhanklikheid van Hom is die enigste konstante wat ek nodig het.  En solank ek aan God vasklou sal ek my beloftes van die 3de kan nakom.

Antwerpen.  Die naam van een van tien provinsies in België.  Die 2de grootste stad in die klein landjie.  Die 2de grootste hawe in Europa.  Stad van diamante en kant in die land van sjokolade en bier.  Stad van Pieter Paul Rubens, ‘n barok skilder van die 17de eeu.  Dis ‘n stad met geskiedenis.  ‘n Ou stad met wortels in die pre-middeleeue. 

 

Burcht aan die Schelde

Burcht aan die Schelde

Dis ‘n moderne stad trots op sy geskiedenis.  Dit restoureer en bewaar.  En voltooi.  Soos die goue toringtjies op die Antwerpen Centraal Station gebou wat op al die planne verskyn het, maar nooit die daglig aanskou het nie.  (Die gebou is in 1895 begin en in 1905 geopen en het die oorloë oorleef.)  

Stad onder restourasie

Stad onder restourasie

 Dis ‘n stad vol kultuur en kulture.  ‘n Kultere mengelmoes van lande en geure en kleure.  Dit het ek geweet toe ek hiernatoe gekom het.  Maar presies hoeveel kulture sou ek nooit kon raai nie.

Dit blyk dat daar iets soos ‘n handjie vol lande níe verteenwoordig word in hierdie ongelooflike stad nie.  Die plaaslike koerant, die Gazet van Antwerpen, het begin met ‘n reeks artikels wat hierdie multikulterele karakter vier.  Hulle het ‘n werêldkaart geneem en al die lande ingekleur waarvan daar minstens 1 persoon in Antwerpen bly.  Of so het hulle gedink.  ”Maar omdat zowat de hele wereld in Antwerpen te vinde is, hebben we alleen de lande ingekleurd waarvan u géén mensen in Antwerpen vindt.“  Heelwat minder werk.  Want van al die baie lande in die werêld  is maar 7 se burgers afwesig in Antwerpen.  Uhmmmm 8 - Swaziland is nie op hulle lys nie.  Dus moet jy nie hierheen kom as jy mense van Belize, Frans Guyana, Groenland, Westelike Sahara, Oman of die Verenigde Arabiese Emirate wil ontmoet nie.  Of Swaziland nie. 

Buitelanders wat jy die waarskynlikste sal raakloop is Nederlanders en Marokkane.  Hulle is ‘n geweldige teenwoordigheid (elk meer as 10 000 sterk).  Jy staan ook ‘n goeie kans om Pole of Turke raak te loop (meer as 4 000 burgers elk).  Mens hoef maar net na al die Turkse eetplekke te kyk om hulle raak te sien!  Die Suid-Afrikaners staan maar redelik laag op die lys met 77.  

Die Europese lande word natuurlik goed verteenwoordig.  Daarvoor sorg die Europese Unie en al die ooreenkomste wat daarmee saamgaan.  Afrika se getalle is ver onder die 500 per land, behalwe vir Nigerië (want hulle kry mens oral) en die Demokratiese Republiek van Congo wat ‘n kolonie van die Koningkryk van België was.  Maar selfs hierdie 2 lande se getalle is onder die 1000.  Maar of ‘n land nou 1 of 11 000 burgers in Antwerpen het.  Die land is verteenwoordig!

Die kulturele mengelmoes vind mens die duidelikste in die skole.  Laas jaar was daar in een skool kinders van 47 nasionaliteite.  Hoe bring mens die ouers van hierdie kinders almal bymekaar en kry hulle werksaam in die skool?  Die skoolhoof (of noem ons hulle direkteurs?) het op ‘n wonderlike oplossing afgekom.  Bring iets te ete.   Dan “….krijgen we bergen lekkers uit de hele wereld en iedereen proeft alles”, want wie hou nou nie van lekker eet nie?  

Dus gaan die hele projek, natuurlik, hand aan hand met ‘n resepte boekie.  En my mond water.  Van bobotie uit Suid Afrika tot ’n vispotjie uit Ysland.  Springrolls van Viëtnam tot warm sjokolade van Peru.  156 resepte van oor die ganse werêld.  En al hierdie geure in Antwerpen. 

‘n Stad van die werêld.  Of is dit die werêld in ‘n stad?

As ‘n Suid Afrikaner oor die verre blou water, lees ek die nuus en skud my kop en wonder en worry.  Gaan daar ‘n land vir my oorbly om na toe terug te gaan? 

Anders as so baie ander wat in self opgelegde ballingskap sit, het ek my vlerke gesprei om die wêreld te verken.  In die vaste hoop en vertroue dat ek weer sou terugkeer na die sonskyn land onder aan die suidpunt van Afrika.  ‘n Mooie land met soveel potensiaal.  En ten spyte van die moord en doodslag wat mens op die nuus kry, glo en hoop ek dat dit nie al is wat gebeur in daardie vaderland van my nie.  En verdedig ek my land wanneer ander dit afbreek met kritiek en uit onkunde.  (En wys hulle daarop dat hulle lande nie noodwendig beter as myne is nie.)   

En nou…… die politiek van die dag laat my sprakeloos.  Ek het net eenvoudig te min politieke kennis om hierdie nuwe verwikkelinge deur te volg tot die logiese einde toe.  Miskien is dit omdat mag van minder belang is vir my dat ek nie die politieke “leiers” se beweegredes verstaan nie.  Hulle motiewe is totaal duister vir my.  Omdat ek glo dat almal inherent “goeie” mense is?  En ander mense se belange op die hart dra?  En verantwoordelikheid aanvaar vir hulle dade?  Miskien. 

Spekuleer gaan nie help nie.  Worry gaan nie help nie.  Veral as dit die tipe worry is wat mens lamlê en keer om enigiets daadwerkliks te doen.  In my baie beperkte ervaring is daar egter een ding wat help.  Bid.  Ek bid vir my familie.  Vir my vriende.  Vir my land.  Vir die leierskap.  Dis tog ‘n goddelike opdrag: om te bid vir die leiers van jou land sodat die kinders van God Hom in vrede en rustigheid kan dien.     

Maar ek skud my kop en wonder oor die duister motiewe van ander.  Veral as hulle hulself as politieke leiers uitgee wat die welstand van hul land se mense op die hart dra.

Wat kan dan nou beter as ‘n boek in die hand?  Ene wat jou so besig hou dat die wêreld om jou tot stilstand kom. 

Ek hou van boeke, of enige geskrewe ding, wat my verstand en my verbeelding kan besig hou.  Iets waaruit ek iets kan leer; wat my laat dink oor myself of oor God of oor die wêreld waarin ons leef. 

Soms wens ek, ek kan in ‘n ander dimensie gaan wegkruip.  Sodat ek in vrede my boek kan klaar lees.  Waar ek vir niemand gou iets moet doen nie.  Salige gedagte!  Die beste ontvlugting.  Nou dat ek daaraan dink….. 

Ah, maar voor jy iets sê of dink dat ek stapelgek is, dit kan nie net sommer enige dimensie wees nie.  Ek dink aan byvoorbeeld die “Dungeon Dimension” van Terry Pratchett se Discworld-reeks waarin daar “Things” is wat net ‘n opening soek om die wêreld binne te val en oor te neem.  Of die vele dimensies waarna Sam en Rodney so baie verwys in Stargate.  Parallelle dimensies en heelalle (hoe gaan mens in Afrikaans van 1 heelal na 2?! Heelalle?!  Dit voel mos nou of ‘universes’ nie ‘n regte vertaling na Afrikaans toe het nie???)  Nee, daardie is almal heeltemal te ingewikkeld.  Selfs die dimensie waarna die Pevensies gaan wanneer hulle Narnia besoek is te wild vir my! 

Nee, hierdie moet ‘n baie spesifieke dimensie wees.  Daar is sekere streng vereistes.  (Hey, dis my dimensie.  Kry jou eie!)  Dit moet ’n gemaklike klimaat wees.  Nie te warm nie (te warm en ek kan nie konsentreer nie).  Nie te koud nie, of my voete en hande is ysblokkies.  Rustige agtergrond geluide - soos mens vind buite in die veld in die aand.  Miskien ‘n vuurtjie wat gesellig knetter en af en toe vonke die lug in skiet.  Hmmmmm, dit moet aand wees met ‘n duisternis sterre aan die swart hemel.  My oë moet natuurlik in die nag kan sien om te kan lees sonder ‘n hinderlike lig wat my blind maak vir alles buite die ligkring.  ‘n Baie gemaklike stoel sodat my rug glad nie seer raak nie (tall order!).  Geen konsep van tyd nie.  Niemand wat my gaan wil pla nie.  Miskien wel ’n ander persoon met wie ek iets insiggewinds of sommer net snaaks kan deel.  En die beste – wanneer ek die boek toemaak en terugkom na die wêreld toe, het daar nie juis tyd verloop in die hier en nou nie.  Wat beteken dat ek kan wegglip midde-in chaos en daardie allerinteressantste laaste 10 bladsye kan verslind.

Gister bevind ek myself toe alleen in Meir straat – die winkel straat in Antwerpen Sentraal.  En ek verkyk my aan die mense.  En ek voel woes ontuis.  En die mense voel almal vir my so vreemd. 

Jaja ek weet dis ‘n vreemde land, maar ek het nie verwag om so vreemd te voel nie.  Die mense lyk almal weird.  Die hele situasie kriewel sommer onder my vel.  Was jy al ooit op ‘n geselligheid tussen ‘n klomp mense waar jy alleen gevoel het?  Waar jy heeltemal ontuis gevoel het?  Dat jy nie daar hoort nie?  So asof jy op ‘n alien wêreld is?  

“Dude.  Where’s my planet?!”

Nee, vergeet van vae onrustighede wat krap aan die onderbewussyn.  WAT is verkeerd?  spreek ek myself toe aan.  As ek dit onder die mat gaan invee gaan dit net lê en sweer.  En dan bars daar iets baie onaangenaams uit! 

So begin ek toe rondkyk met oop oë.  Wat laat my so onrustig voel?  Wel, ek verkyk my aan die mense se neuse.  Goeiste!  Hierdie mense het almal sulke groot lang neuse!  Hulle loop almal agter hul neuse aan!  Ongemerk begin ek oplet na die mense om my se profiele.  Wraggies.  Die meeste het lang prominente neuse, kleinerige gesiggies en byna onopvallende kenne onder hierdie neuse asof dit nie wil groei in die skadu van hul reukorgaan nie.  Fyn, sagte haartjies.  Meesal lig van kleur.  En almal lyk maar blekerig.  (Wel, behalwe nou die mense wat Midde-Oosters is.)  Ahhhh.  En daar het ek dit. 

Onbewustelik vergelyk ek alles om my met Korea.  (Vrek!  Kry jou kop uit Korea uit, vrou!)  Die Koreane het groot, opvallende, breë gesigte.  Prominente wangbene.  Klein neusies in vergelyking met die opvallende beenstruktuur. Pikswart DIK hare.  As daar ‘n krul in iemand se hare is, is dit met baie geld en groot moeite verkry.  As daar ‘n ander kleur hare is, is dit dieselfde storie – chemies en baie geld.  In Korea lyk alles dieselfde.  Die geboue, die karre, die mense, hulle klere. 

Hier trek almal na hul smaak aan.  Elkeen ‘n individu.  Sommige mense lyk baie goed, ander sommer net slordig.  Mense is nie so image-bewus hier nie.  (En ons westerlinge is image-bewus, maar glad nie so erg soos die Koreane nie).

En dan, die groot rede dat ek so uit plek uit voel – ek word nie aangestaar nie!  Ek is heeltemal anoniem!  Ek verdwyn in die menigte.  Ek lyk soos die locals.  My kleredrag, wat in Korea redelik eksoties was, is baie baie gewoon hier.  Ek het nie een kyk gekry nie.  Ek is nie meer ‘n eksotiese vreemdeling met my krullerige bruin hare en wit vel en groot groen oë en gekurfde anatomie nie.  Ek lyk soos tientalle ander vroue.  Daar is selfs vrouens langer as ek!  My bloesies wat soms gewaagd gevoel het in Korea, is nou sommer byna konserwatief.  Ek mis my “rock-ster” status!

Toe ek teenoor Liefie my gevoelens van kultuurskok beskryf was sy antwoord ”Engel, jy sal ander klere moet dra as jy wil aandag trek.”   How true. 

Mense wat lank in die buiteland gewoon het, praat altyd van “reverse culture shock” wanneer hulle terugkeer na hul geboorteland toe.  Ek het nie geweet wat hulle bedoel nie.  Ek het gedink ek sou makliker in België aanpas as in Korea omdat dit soveel nader is aan die kultuur waarin ek groot geword het, as die Ooste.  Maar moenie glo nie.  Dit gaan moeiliker wees.  In Korea was ek gewoond dat absoluut elke ding anders sou wees.  Vir 2 jaar was dit my lewenswyse – “elke situasie wat ek vandag teëkom gaan anders en waarskynlik onverstaanbaar wees”.  Nou word ek gepootjie deur dinge wat ek gedink het ek verstaan het, of geweet het. 

Ek is nie gewoond aan ‘n verskeidenheid van keuses nie!  Gister probeer ons koeldrank in ‘n kafee te bestel.  En ek weet nie wat beskikbaar is nie.  Ek is gewoond daaraan dat die keuse “cider” (nie die alkohol nie dis lemonade) en coke is.  Skielik moet ek kies uit ‘n horde opsies.  Uhmmmmm.  Gee my ‘n lys asseblief dat ek kan sien!  Gelukkig het Liefie besef dat ek besig is met ‘n shut-down.  Toe kry hy vir my iets soortgelyk aan ginger ale.  En gisteraand toe ons frietes (slap tjips) bestel moes ek ‘n sous kies.  So….. wat is beskikbaar?  Weereens is daar geen lys nie.  Op die beste van tye neem dit my ‘n oomblik om ‘n besluit te neem.  As ek nie weet wat die opsies is nie, en dit nie kan sien nie, kies ek sommer maklik niks.  Ek is ‘n baie visuele mens.  Ek wil kan sien.  Of lees.  Of aanraak.  Om ‘n lys dinge vir my af te rammel in die dikke Nederlandse aksent met ‘n skoot “Aentwaerps” dialek ingegooi,  gaan sake verseker nie bevorder nie.  Dankie tog vir Liefie aan my sy.  Weereens het hy die dag gered.

Ek stem saam met elke iedere mens wat nog ooit vir lank in die buiteland gewoon het en dan terugkeer na sy geboorteland.  Reverseculture shock is worsethan the initial culture shock.  Toe ek in Korea aangeland het, het ek nie juis kultuurskok beleef nie.  Ek was homesick, maar ek het myself maklik aangepas daar.  Elke dag sou onverstaanbaar en onbekend wees.  Mens vind jou eie  balans daarin.  Hierdie keer gaan dit nie so maklik wees nie!  

Maar dis waaroor die lewe gaan.  Nuwe ontdekkings.  Nuwe ervarings.  Nuwe uitdagings.  Dit gaan ‘n groot avontuur wees om my balans hier te vind.  Waarskynlik ‘n groter uitdaging as wat ek besef het.  Maar ek is nie bereid om my tasse te pak en te vlug nie!  Ek floreer op uitdagings.  (Sê ek mos nou vir myself: ‘Myself, hoor jy?’)

België, BRING IT ON!

Vandag sit ek en skryf uit Antwerpen, België.  Ek het Suid Korea op 30 Augustus vaarwel toegeroep - tot groot vreugde van my verloofde.  Ek was ‘n week lank in warm, warmer, warmste Dubai.  (Eintlik het ons heeldag net in die lugverkoelde winkelsentrums rondgehang.  O ja, en in die sneeu gespeel!)  En Saterdag het ek my intrek in my nuwe huisie geneem.  Saam met my wonderlike Belg.  Hy het my selfs met ‘n bos bloedrooi rose op die stasie ingewag.   Uit sy vel uit dat ek uiteindelik tuis is – aan sy sy.

Na rus en slaap en baie bederf gaan ek vanmiddag die stad op my eie aandurf.  Liefie het gesorg dat ek mooi weet hoe en waar om die tram te neem en af te klim.  Maar ek doen dit vanmiddag alleen.  En dan ontmoet ons in die stad vir wat soos ‘n date voel.  (Dis hoe min dates ons gehad het – net ‘n gewone “ek kry jou 4 uur in die stad” voel soos ‘n date!)  Gewapen met ‘n kaart van die stad en ‘n tram kaartjie wat ek nog moet gaan koop by die koerante winkeltjie, voel ek gereed. 

Ek meen – hoe moeilik kan dit wees om jou weg te vind in ‘n stad wat Nederlands praat as jyself Afrikaans is?  As ek in Suid Korea my weg kon vind met handgebare en geen kaart nie, behoort Antwerpen kinderspeletjies te wees. 

Twee jaar gelede in Suncheon, Korea, was my maatstaf of ek sou kon oorleef :  Kan ek kos koop?  Kan ek weer my weg huistoe vind?  Die antwoord op beide was ‘n baie gerustellende JA!  Huis toe was so maklik soos val uit ‘n boom uit – kry ‘n taxi en se jou adres en siedaar!  Die kos was ietwat moeiliker, want aanvanklik moes ek prentjies lees om te probeer raai wat wat is.  Gelukkig lyk ‘n eier soos ‘n eier, maak nie saak waar in die wêreld jy is nie!  Olie kan bietjie moeiliker wees.  Sommige asyne lyk baie soos olie.  Hierdie keer is die kos vraag baie maklik.  Ek kan die etikette alles lees.  Selfs kyk of die gewraakte gis in iets is.  Huistoe is bietjie meer ingewikkeld.  Hier is nie so baie taxis nie, en hulle is duur.  Maar as ek die regte tram neem, is dit maklik.  En natuurlik, when all else fails, phone the man.  Hy sal my met liefde huistoe verduidelik of selfs kom haal as dit moet.   Dus, sal ek kan oorleef hier?  Ja, beslis.

Nou ja.  Nuwe Avontuur – goeie dag aan jou.  Ek sien al lank uit na hierdie dag.  Nou is ek hier, en jy gaan geleef word.

Gistermiddag kom ek teësinnig by die biblioteek aangery na middagete.  Ek neem die eerste ingang en ry die kort entjie tussen die satelliet poskantoor aan die eenkant en die breë voetingang aan die ander kant deur voor ek moet wegswaai om óm die groot gebou te kan ry sodat ek aan die agterkant kan gaan parkeer. 

Terwyl ek stadig inry, bewonder ek die laning rankrose wat die stellasie oor die voetpad so mooi dig toerank en geurige rooi-pienk rose dra.  Oral staan mense rond en gesels, of is haastig iewers heen oppad.   Ek laat my oë oor die ronde lyne van die graniet en glas gebou gly.  Een man staan op sy selfoon en gesels en heel op die punt van die laning rankrose staan ‘n seuntjie en…..

Wat?!  Ek skop byna rem van ongeloof.  Ek kan my oë skaars glo!  Vinnig knip ek my oë om seker te maak ek sien wat ek sien.  En dan bars ek uit van die lag.

Aan die einde van laning rankrose … byna reg voor die ingang na die kinderafdeling van die biblioteek … skaars 10 treë voor een van die afdelingsbestuurders van die biblioteek … in volle sig van almal wat rondloop en rondstaan … staan ‘n seuntjie van om en by 5 jaar en gee die welige groen gras water.  Sy broekie lê om sy enkels op die gras.  Hy hou sy blou gestreepte hempie hoog opgetrek met beide handjies.  Sy gesiggie is die ene konsentrasie.   Daar staan hy poedelkaal en sy lyfie vorentoe geboog sodat hy sy voete nie ook watergee nie. 

Daai nood moes baie hoog gewees het!  Arme kind.  Ek wonder waar sy ma was op daai oomblik.  As sy hom moes sien, sou sy sweerlik in die aarde weggesink het van skaamte en haar gesig nie weer by die biblioteek wou wys nie.  Sulke dinge sien mens nooit in Korea nie!  Nie eens kaalbolyf seuntjies wanneer dit regtig baie warm is nie!  Laat staan nog kaalvoet.  

Dis goed om te sien kinders bly kinders.  En as die nood druk, maak jy ‘n plan!

Een van my eerste herinneringe aan hierdie dorp/stad is die dag toe ’n groot lorrie ons verbygesteek het.  Opsigself is dit niks vreemd is nie.  Maar op die laaste trappie voor jy in die kajuit klim het ‘n paar uitgetrapte modderbespatte sandale gelê.  En wat daarvan?  hoor ek jou sommer vra. 

Wel, die locals sit nie ‘n voet in ‘n huis as hulle skoene aan het nie.  Dié word almal by die deur uitgetrek en dan loop jy op jou kouse verder die huis in.  Of as jy soos stomme kaalvoetkind uit Afrika altyd oop sandale dra  SONDER kouse, loop jy kaalvoet in die huis rond en probeer nie ongemaklik voel omdat almal jou voete aanstaar nie.   Die rede?  Daar word op die vloere gesit en gekuier en geslaap (en selfs kos voorberei!)  En as dit ‘n partytjie by iemand se huis is, moet jy letterlik oor die see van skoene klouter of daardeur waad voor jy binne is. 

Gaan eet jy uit is daar twee areas om van te kies.  ‘n Tafel met ongemaklike stoeltjies, of die verhoogde vloer waar jy plat op jou alie by ‘n lang lae tafel sit waar my knieë nooit onder-in pas nie.  Die lekkerte van hierdie vloere is natuurlik dat hulle in die winter verhit word.  Ahhhh!  Salig so op die koue agterstewe.

By die gym aangekom trek jy jou buite-skoene uit wat in ‘n spesiale hokkie toegesluit word.  Jy moet seker maak jy het ‘n paar oefen skoene wat goed skoon is waarmee jy dan kan oefen.  Dus geen hardloop op die treadmill vandag en môre op die pad nie – behalwe as jy bereid is om die hardloop skoene elke keer te was! 

By die klein elementêre skooltjie  waar ek op ‘n Woensdag klas gee,  los ek my “buite-skoene” by die deur en word voorsien van ‘n paar redelike lelike swart plastiese plakkies waarmee ek dan binne die skool en in my klasse mag rondloop.  Die permanente onderwyseresse bring almal ‘n paar “binne-skoene” van die huis af waarin hulle kan werk en steeds “fashionable” kan lyk.  By die klein bibliotekie gebeur dieselfde.  Behalwe dat ek daar kan kies tussen sulke interessante bruin-pienk materiaal pantoffels (dit kan net pantoffels wees, dis gewis nie plakkies nie!), of blou plakkies wat alteveel lyk na daardie Adidas-plakkies wat mens se voete so lekker kan laat stink.

Dus kon ek my net voorstel wat binne-in hierdie lorrie se kajuit aangaan.  Die bestuurder sit met kouse aan en bestuur en geen skoen word toegelaat binne-in nie.  Of hy het sloffie-pantoffels aan.

En kan hierdie mense vinnig uit en in hulle skoene kom!  Laas jaar toe die tegnikus my kabel-tv kom installeer het, moes hy gou uit om ‘n kabel of iets te gaan haal.  My mond het oopgehang oor die spoed waarmee hy sy skoene kon aankry.  Hy het so ‘n ingewikkelde draaibeweging met sy onderlyf gemaak – sy neus in die deur se rigting, en sy tone in my rigting.  Sommer so in die draf was die skoene aan en hy uit!  Maar dan, dis jaaaaaare se oefening.  

En ekke?  Hahahaha.  My Koreaanse metgeselle moet altyd vir my wag.  My skoene is gemaak om in die oggende aan te trek en saans by die huis weer uit te trek.  Ek moet altyd met my hande aan my skoene vroetel om hulle ordentlik aan te kry – iets wat die locals noooooit doen nie.  Die enigste ding wat ek geniet rondom die hele gebruik…… Ek is ‘n kaalvoet mens.  Enige verskoning om dadelik van my skoene ontslae te kan raak gryp ek met beide hande aan!

Vanoggend ry ek in die groot wye straat af werk toe in die ou wit kar met sy middernag getinte vensters.  Rustig hou ek by die snelheidsgrens, ten spyte van die afdraend wat net neig om swaartekrag die oorhand te laat kry, en die ongeduldige Koreaanse bestuurders wat verby my zoem. 

Dis bewolk soos elke ander dag van die afgelope (hoe lank?!) drie weke al.   Ek het die vensters afgerol om die koel luggie in die muwwerige kar te laat inspoel.  Junie tot September is mos die maande in Korea wat die vog aan als kleef en niks ordentlik wil droog word nie.

En daar onthou ek ‘n gunsteling tydverdryf van my toe ek nog die sloer-roete tussen Johannesburg en Pretoria gedoen het op ‘n daaglikse basis.  Elke middag het ek met oop vensters en my gunsteling rock musiek die dag se stress sit en uitsing en headbang op die snelweg.  Tot groot vermaak of konsternasie van al die honderde bestuurders om my wat suurbek en stroef die ou voor hom uit die pad probeer ry.  Ek het uit volle bors gesing en nie gehuiwer om behoorlik kop te skud nie!  En glad nie omgee hoe belaglik ek lyk of selfs klink nie.  Hoe harder hoe beter.  En wanneer ek na 5 by my huisie aangekom het was ek vars en vrolik en die dag se stress vergete iewers tussen die Ben Schoeman se strepe en die stukkies glas en plastiek wat altyd oral gestrooi gelê het. 

Terwyl ek so sit en mymer oor vervloe dae begin ‘n heerlike liedjie te speel.  En so natuurlik soos dag en nag mekaar volg begin ek kliphard saam te sing.  Vensters oop en singend cruise ek af in die groot dubbelpad en wonder watter indruk ek op die Koreane maak.  Niemand hier sal ooit bewustelik ‘n spektakel van hulself maak nie.  Wat sal die mense sê?! 

Maar hoe kan mens dan ook nou anders met Michael Buble se “Feeling good”?  Ek meen, hoe kan mens die liedjie luister EN geniet sonder om self te wil sing en dans?

◊◊◊◊◊◊ 

“Feeling Good”

Birds flying high
You know how I feel
Sun in the sky
You know how I feel
Breeze driftin’ on by
You know how I feel
It’s a new dawn
It’s a new day
It’s a new life
For me
And I’m feeling goodFish in the sea
You know how I feel
River running free
You know how I feel
Blossom on a tree
You know how I feel
It’s a new dawn
It’s a new day
It’s a new life
For me
And I’m feeling good

Dragonfly out in the sun you know what I mean, don’t you know
Butterflies all havin’ fun you know what I mean
Sleep in peace when day is done
That’s what I mean
And this old world is a new world
And a bold world
For me

Stars when you shine
You know how I feel
Scent of the pine
You know how I feel
Oh freedom is mine
And I know how I feel
It’s a new dawn
It’s a new day
It’s a new life
For me

And I’m feeling good  

 

Vandag het ek tot die slotsom gekom dat dinge nie meer so kan aangaan nie.   My treë weifel al om die put se rant.  Sommige dae kan ek die put skaars sien.  Ander dae voel ek hoe trek die donker duisternis my na benede.   Wanneer ek mooi kyk, kan ek die sirkelende paadjies sien wat my voete om die put uitgetrap het.

Nee!  Genoeg is genoeg.  Dis nie wie ek is nie!  Wat het geword van daardie borrelende mens in my?  Die een wat altyd gereed was om te lag of te glimlag?  Vir wie die son altyd geskyn het?  Al was dit ook bewolk?

Ek is veronderstel om histeries gelukkig te wees.  Ek is verloof aan ‘n wonderlike man wat van God afgebid is.   “Hoe kan dat dan nou?”  soos hy sal vra met sy Vlaamse aksent.   Ons is gelukkig saam.  Ons vul mekaar aan.  Ons het wonderlike drome vir ons toekoms.  En die som van ons is meer as die dele wat daardie som maak.  Ons trou sodra ek terug is by hom.  En dis juis daar waar my hart ineenkrimp van verlange.  Wanneer ek terug is…..

Dis  7 lange weke vandat ek hom moes groet in sy land en moes terugkeer na ’n land waar ek altyd  ’n vreemdeling is.  Ek het nog ‘n kontrak gehad om klaar te maak.  Ek kon dit kwalik verbreek!  En nou is daar nog 9 weke oor van die kontrak.  En dit voel soos 9 eeue!  Ek leef elke dag net vir daardie 2 uurtjies wat ons via die internet kan kuier.  En wanneer my liggaam aandring op slaap groet ek met ‘n swaar gemoed.  Dit voel of daar ‘n droogte in my siel kom lê het.  En dis hier waar ek die streep trek.  Vandag.  Op hierdie mistige dag wat al die soveelste week merk sedert ek die son die laaste keer sien skyn het.  Letterlik en figuurlik.

Vanaf vandag gaan ek elke dag aan iets moois of positiefs dink.  Om hierdie donkerte in my te verlig.

Vrydagmiddag het ‘n 5 jarige studentjie van my vir my in baie mooi duidelike Engels gesê:  “Teacher!  I love you.”  Met soveel gevoel.  Haar gesiggie was baie ernstig en sy het my vas in die oë gekyk asof sy wou seker maak dat ek haar hoor en verstaan.  Ek was besig om die goedjies bymekaar te probeer kry vir die roetine liedjie voor die klas begin.  Ek wens ek kon haar daar en dan styf teen my vasdruk. 

Ek noem haar my roomysdogtertjie.  Omdat haar ma haar in die winter in die dikste roomys-pienk jassie geprop het wat sy in die hande kon kry.  Van haar skoentjies tot die kroontjie van haar koppie waar haar donker haartjies altyd in ‘n bokstertjie vasgemaak is, was sy gewoonlik in roomys-pienk aangetrek.  En sy het diep in my hart gekruip op een dag wat ek ook bietjie blou was.  Sy het my hand geneem en daarop aangedring om saam met my die 2 stelle trappe af te klouter tot op die grondvloer.  Ouma mag nie naby haar gekom het nie!  Die geluidjies wat sy gemaak het en haar gesiggie wat eenvoudig gestraal het van tevredenheid en geluk het verseker dat sy sommer diep in my hart gekruip het daardie dag.  

My roomys-dogtertjie is vandag my mooi gedagte.

« Vorige BladVolgende Blad »